Eddie Jones, afrigter van Engeland se rugbyspan, glo die besigste lid van die All Blacks se groep sal vandeesweek die kopdokter, Gilbert Enoke, wees.

Die uitgeslape Jones het die druk in sulke kruiwaens vol op die Nieu-Seelanders gehoop deur sielkundige speletjies te speel voor Saterdag se halfeindronde in Jokohama.

Hy het Enoke uitgesonder as die man wat sy saak sal moet ken, aangesien die All Blacks daarna streef om die Wêreldbeker ’n derde keer in ’n ry te wen en dit ook potensieel die laaste keer is dat hul beste afrigter nog (Steve Hansen) aan die stuur gaan wees.

“Daar is baie vir die All Blacks om aan te dink,” het Jones gesê.

Jones voel die Nieu-Seelanders gaan onder die druk van verwagtinge swig. Hy versprei ook die boodskap dat sy span niks het om te verloor nie.

Nieu-Seeland dink aan hul driekuns. Hulle sê hulle stap na die druk toe, maar die druk gaan hulle in die straat afjaag.

Die Aussie is baie lief daarvoor om verbale handgranate na die teenstanders te gooi voor groot wedstryde en dié een is gewis die grootste van sy vier jaar aan die stuur.

“Niemand dink ons kan wen nie en daar is geen druk op ons nie. Ons gaan net ontspan en ’n wonderlike week hê,” het hy gesê by Disneyland in Tokio, waar sy span bly.

“Nieu-Seeland dink aan hul driekuns. Hulle sê hulle stap na die druk toe, maar die druk gaan hulle in die straat afjaag.”

Met Engeland wat net een van hul laaste 16 wedstryde teen die All Blacks gewen het, is dit skaars ’n verrassing dat Jones ’n obsessie oor hulle het.

Die twee spanne het nog net een keer teen mekaar gespeel sedert Jones oorgeneem het, met die All Blacks in daardie toets verlede jaar op Twickenham naelskraaps baas met 16-15. ’n Drie van Engeland is daardie dag nie toegelaat nie.

“Ons het toe ’n paar dinge op die proef gestel en ek voel ons kan dié keer beter doen. Ons het nou daardie kans,” sê Jones.

Ná die Argentinië-wedstryd sou ek gepos word. Owen (Farrell) kon nie skop nie en daar sou bloed teen die mure van Twickenham wees. Nou is ons 80 minute weg van ’n plek in die eindstryd.

“Die eerste keer dat ek met die spelers gepraat het nadat ek die afrigter geword het, het ons besluit ons wil die beste ter wêreld word. Daardie moontlikheid is daar, ons moet net ’n paar dinge verander. Dit behels hoe ons oefen, hoe ons speel en ook hoe ons dink. Ons het dit stelselmatig oor vier jare gedoen en ons het onsself nou in ’n goeie posisie geplaas.”

Jones het ook mond uitgespoel oor hoe oor sy span berig word.

“Ná die Argentinië-wedstryd sou ek gepos word. Owen (Farrell) kon nie skop nie en daar sou bloed teen die mure van Twickenham wees. Nou is ons 80 minute weg van ’n plek in die eindstryd.

“As jy kyk na wat ons gedoen het as ’n span oor die laaste vier jaar het ons uitstekende oorwinnings gehad en ’n paar beduidende nederlae. Ons het daaruit geleer en daar is ’n spangees wat ons sal deurdra.

“In ’n halfeindstryd sal daar groot oomblikke wees wat die wedstryd sal beslis. Ek dink ons is toegerus om daardie oomblikke te hanteer,” sê Jones. – Reuters