Ronan O’Gara, ’n voormalige losskakel van Ierland, meen Eddie Jones, breier van Engeland, se besluit om nie die “reëls te buig” in die Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke nie, het die Engelse die Webb Ellis-trofee gekos.

Engeland se vaskopstut, Kyle Sinckler, is ná enkele minute van die veld af met harsingskudding en is deur Dan Cole vervang.

O’Gara sê Jones moes opdrag gegee het dat ook Cole met ’n “besering” van die veld kom, toe dit duidelik geword het dat die Bokke die Engelse in die skrums boelie.

Die Rose het swaargekry in die skrums en is telkens gestraf vir oortredings in dié afdeling.

Die skrums sou dan, met Cole wat ook vervang moes word, in daardie geval onbestrede gewees het.

Cole was egter enduit op die veld en Suid-Afrika het uiteindelik maklik met 32-12 geseëvier.

O’Gara, deesdae hoofbreier van die Franse klub La Rochelle, het in ’n onderhoud aan Virgin Media gesê hy glo in ’n filosofie van wen ten alle koste – ongeag wat dit verg.

Hy was verbaas dat Jones nie besef het dit is nodig dat Cole van die veld gehaal moes word nie.

“Eddie Jones moes aan die slegste scenario moontlik gedink het.

“Dan Cole kom op en moet 77 minute speel sonder dat daar vars bene is wat later by hom kan oorvat.

Wat doen jy? Die afrigter in my sê jy buig die reëls en vat daardie voordeel (wat die Springbokke gehad het) weg.
Ronan O'Gara

“Wat doen jy? Die afrigter in my sê jy buig die reëls en vat daardie voordeel (wat die Springbokke gehad het) weg.

“Dit was uiteindelik strafskoppe in die skrums wat deurslaggewend was.”

Hy sê Jones moes ’n manier gevind het om te wen, maak nie saak wat dit sou verg nie.

“Selfs al kom jy in die moeilikheid, het jy dan steeds ’n wennersmedalje.”

Die voormalige Ierse losskakel Ronan O’Gara. Foto: Getty Images

In die Bokke se groepwedstryd teen Italië was daar ook vir ’n groot deel van die wedstryd onbetwiste skrums. Die Italianers is toe ook in sommige kringe daarvan verdink dat hulle die reëls gebuig het.

Dit is onbetwisbaar Engeland se gesukkel in die skrums het tot dié span se ondergang gelei.

Sir Clive Woodward, wat die Engelse in 2003 gebrei het toe hulle dié beker gewen het, meen dit was lotsbepalend.

“Geen twyfel nie, die beste span het gewen. As jy op die vlak nie behoorlik kan skrum nie en vyf of ses strafskoppe afstaan, gaan jy altyd tweede kom.

“Engeland sal bitter teleurgesteld wees dat hulle met 32-12 in ’n WB-eindstryd verloor het.

“Hulle kon nie ’n skoot afvuur nie, want daar was te min eerstefase-besit,” het Woodward kort ná die eindstryd gesê. – rugbypass.com