Eddie Jones het Dinsdag, ook nie vir die eerste keer vanjaar nie, beweer iemand het op Engeland se eerste Wêreldbeker-oefensessie terug in Tokio gespioeneer.

Hy het die aantyging gemaak nadat spanbeamptes ’n rooi lig opgemerk het in ’n gebou wat op die Rose se oefenveld uitkyk.

“Daar was vir seker iemand in die woonstelblok wat ons verfilm het, maar dit kon dalk ’n Japannese aanhanger gewees het,” sê Engeland se Aussie-afrigter.

Hoewel die oefenvelde met hoë heinings verbloem word en sekerheidspersoneel patrollies doen om ongemagtigde verfilming te verhoed, sê Jones dit pla hom min indien die oefening opgeneem is.

“Ek gee nie om nie, dit is deel van die storie. Dit is die pret van die Wêreldbekertoernooi.”

Jones erken hy het hom voorheen aan dieselfde skuldig gemaak, maar nie sedert 2001 nie.

“Jy het eenvoudig nie meer nodig om dit te doen nie, jy kan alles sien. Jy kan op YouTube na almal se oefeninge kyk. Daar is niks meer waarde om daardie soort ding te doen nie.”

Saterdag se halfeindstryd-teenstanders Nieu-Seeland en toernooibeamptes sal hul waarskynlik nie veel steur aan Jones se nuutste bewerings nie, veral nadat hy feitlik presies dieselfde aantyging voor die Sesnasiesreeks in Januarie gemaak het.

“Ek kan waarborg (Wallis se afrigter) Warren Gatland stuur iemand wanneer ons oefen,” het hy destyds gesê.

Hy waarsku ook dat daar baie geleenthede is by die rugbyskouspel om te spioeneer want “verskeie oefenvelde in Japan word deur kantoorgeboue omring”.

– Reuters