Engeland se afrigter, Eddie Jones, erken dat hy ’n fout gemaak het met sy spankeuse vir die Wêreldbekereindstryd en dat hy eerder “vars bene” teen Suid-Afrika moes inspan.

Jones het dieselfde beginvyftiental gekies wat ’n week tevore met die All Blacks in die halfeindronde afgereken het, maar die Rose kon nie byhou met die Bokke se fisieke aanslag nie en is met 12-32 in Jokohama geklop.

“As daar een ding is wat ek anders kon doen, sou dit waarskynlik wees om my spankeuse ’n bietjie aan te pas,” sê Jones.

“Ek het deurlopend my spankeuses van wedstryd tot wedstryd (gedurende die toernooi) verander. As ek nou terugkyk, moes ek waarskynlik my groep vir die eindstryd so ’n bietjie verfris het.

“Ek gaan nie individue noem nie, maar miskien moes ek die 23-tal verander het. Wanneer jy wen, het jy al die antwoorde, maar nie as jy verloor nie.”

Jones se Engelse kontrak verstryk in 2021, maar die Engelse Rugbyunie het gesê die Australiër sal ’n aanbod ontvang om sy verpligtinge met die span tot aan die einde van die rugbyskouspel in 2023 te verleng.

Jones, wat die Barbarians brei vir die uitnodigingspan se kragmeting Saterdag teen Fidji op Twickenham, is onwillig om sy toekomsplanne te bespreek.

“Daar is allerhande stories op die oomblik – soos dat ek na Frankryk of Fidji sal gaan – maar dit is nie regtig my besluit nie. Afrigters moet sukses behaal en dit is die enigste ding waaroor ek my bekommer,” sê hy.

– Reuters