Frans Steyn se 67ste toets en tweede Wêreldbeker-eindstryd Saterdag gaan moontlik die laaste keer wees wat hy in die Groen-en-Goud opdraf.

Daardie syfers getuig van ’n vol loopbaan, maar tog kan ’n mens nie help om te wonder wat kon gewees het nie. Hy was nog ’n tiener toe hy in 2006 sy eerste toets vir die Bokke teen Ierland op Lansdowne Road gespeel het. Tussen 2013 en 2018 het hy in slegs drie toetse – almal in Suid-Afrika se tuisreeks teen Frankryk in 2017 – gespeel.

Die wedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Hamilton, in 2009, was straks die hoogtepunt van Steyn se Springbok-loopbaan. Hy het met drie strafdoele geslaag. Foto: Getty Images

Steyn was waarskynlik nog te jonk toe hy in 2009 by die Franse klub Racing Metro aangesluit het en het ook nie altyd om dieselfde vuur as die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers gesit nie.

De Villiers se los tong het baie met daardie probleme te make gehad en nie almal het toe al geweet dat jy hom soms maar met ’n knippie sout moet neem nie.

In 2014, toe Heyneke Meyer die Bokke gebrei het, het Steyn gevra om nie oorweeg te word nie. Hy wou tyd gegun word om oor sy Bok-toekoms te gaan nadink. Hierdie keer was dit ’n geldtwis.

Die koms van Rassie Erasmus as Bok-breier sou altyd die potensiaal hê om nuwe asem in Steyn se Bok-loopbaan te blaas. Erasmus was self in sy loopbaan ’n uiters goeie, maar onderbenutte toetsspeler.

Erasmus het reeds vir Steyn in sy eerste groep vir verlede jaar se reeks teen Engeland gekies, maar vir hom en die veteraan-haker Bismarck du Plessis vrygestel toe die boodskap uit Frankryk kom dat hulle albei beseer is. Niemand in die binnekringe van Suid-Afrikaanse rugby het die storie oor beserings vir soetkoek opgevreet nie en dit het waarskynlik meer te doen gehad met die spelers wat na hul Franse klub, Montpellier, se pype moes dans.

Du Plessis sou nie weer vir die Bokke gekies word nie en vir Steyn was dit waarskynlik ’n bevestiging oor hoe elke geleentheid om vir sy land te speel, gekoester moet word.

’n Frans Steyn wat met ’n glimlag speel, bly ’n enorme bate en Erasmus het hom in ’n geestelike sone gekry waar hy weer sy toetsrugby geniet.

’n Frans Steyn wat met ’n glimlag speel, bly ’n enorme bate en Erasmus het hom in ’n geestelike sone gekry waar hy weer sy toetsrugby geniet.

Die vraag is nou of die 32-jarige Steyn, soos net Os du Randt voor hom vir die Bokke gedoen het, ’n tweede goue medalje by ’n WB-toernooi gaan verower.

Diegene van ons wat gesien het hoe Steyn vroeg in sy loopbaan op die voorgrond tree, sal hunker na een laaste skepdoel of ’n monster-strafdoel van 60 meter.

Sy eerste groot vertoning vir die Bokke was in 2007 se toets teen die Wallabies op Nuweland. Die Bokke was in die pylvak met 16-19 agter, maar skepdoele deur Steyn in die 74ste en 77ste minuut het vir ’n belangrike oorwinning gesorg.

Die eerste keer wat Steyn se stewel hard gepraat het in ’n Bok-toets, was in 2007 se Drienasies-kragmeting met Australië op Nuweland. Hy het met twee skepdoele geslaag in ’n oorwinning van 22-19. Foto: Getty Images

By die WB-toernooi van 2007 was Steyn, op 20, ’n yster nadat die gereelde binnesenter, Jean de Villiers, se toernooi reeds in Suid-Afrika se eerste wedstryd weens ’n besering kortgeknip is. Steyn het in die eindstryd teen Engeland met ’n deurslaggewende strafdoel van 46 m geslaag.

Vir hom was 46 m egter kinderspeletjies – soos die All Blacks in 2009 in Hamilton uitgevind het. Steyn se drie strafdoele in daardie kragmeting is in die annale van Bok-rugby se hoogtepunte opgeteken. Die eerste van die drie was van die Bokke se tienmeter-stippellyn af.

John Smit, toe die Bokke se kaptein, onthou goed hoe dit die Kiwi’s se skouers laat sak het.

“Ek kon Richie McCaw (die All Blacks se kaptein) se lyftaal lees. Hy het vir homself gesê: ‘Ek kan nie binne 70 meter van my pale af onkant wees nie. Hoe gaan ek speel?’ Daarna het jy hom byna nie weer gesien nie.”

Bryan Habana, wat Steyn se hoogtepunte meegemaak het, beskryf hom as ’n “fantastiese individu” en “ongelooflik talentvolle speler”.

“Soms dink mense hy is arrogant, maar dis net selfvertroue. Hy het nie ’n traak-my-nie-agtige houding nie. Hy het net totale geloof in homself. Dit was drie manjifieke skoppe wat die gety in ons guns gedraai en gehou het.”

Soms dink mense hy is arrogant, maar dis net selfvertroue. Hy het nie ’n traak-my-nie-agtige houding nie. Hy het net totale geloof in homself.
Bryan Habana

Steyn is 12 jaar later nie meer ’n eerstekeuse-speler nie, maar sy rol as plaasvervanger is ewe belangrik. Die feit dat hy buiten skrumskakel omtrent elke posisie in die agterlyn kan dek, maak van hom ’n waardevolle bate op die bank. Dit stel die Bok-breier in staat om ses voorspelers op die plaasvervangersbank te kies en daardeur die fisieke druk op teenstanders te laai. Dat Steyn nou stadiger lyk, is nie ’n swakpunt wat in sy huidige rol baie saakmaak nie.

Hy is ’n speler vir groot wedstryde en daar gaan Saterdag min tussen die spanne te kies wees. Trouens, dit kan op ’n enkele skop neerkom. As daardie strafskop laat in die wedstryd op die Bokke se tienmeter-stippellyn is, het hulle ’n man wat opgewasse is vir die taak.