“Pa, ek het geweet ons gaan wen,” het Springbok-speler Damian de Allende Saterdag aan sy pa gesê. Hulle het mekaar omhels, gesoen en gedruk.

De Allende se pa, Tony, sê Maandag dat die afgelope Saterdag, toe die Springbokke as wêreldkampioen van die rugbyveld af gestap het, een van die beste dae van sy lewe was.

“Ek en baie ander ouers en vrouens van die spelers het by mekaar gesit in die stadion, so agt rye van die plaasvervangersbank af. Dit was wonderlike sitplekke,” sê hy.

“Die eindstryd was ’n asemrowende vertoning deur Japan, en die feestelike atmosfeer het mens so opgewonde gemaak vir die wedstryd.”

Damian, Tony se jongste seun, was heeltemal te kalm na sy sin.

“Hy het so rustig gelyk. Ek kon dit nie glo nie want ek was ’n absolute wrak! Ons het die volkslied baie passievol gesing, hoewel die Engelse (die meerderheid in die stadion) baie hard (hul volkslied) gesing het.”

Rondom Tony was die ouers van spelers soos Pieter-Steph du Toit en Willie le Roux. Hy sê hulle het soos ’n familie gevoel wat mekaar ondersteun te midde van allerlei kritiek.

Agter die ouers het die spelers se vrouens en meisies gesit. Tony sê hy het gesien hoe Rachel Kolisi, die Springbok-kaptein Siya se vrou, al die vroue bymekaar roep om te bid voor die wedstryd.

“Dit was baie spesiaal,” sê Tony. “Daarna het hulle heeltyd gesing en baie gees gehad. Ek het gewens ek kon ook ná die wedstryd op die veld gaan soos hulle, maar ek het maar my beurt afgewag.”

Volgens Tony was die Engelse ondersteuners “arrogant” voor die wedstryd, en het almal rondgestamp met ’n houding dat hulle gaan wen.

“Maar toe ons wen, het hulle ons op die skouer geklop en ons gelukgewens. Hulle was nederig en het die nederlaag aanvaar.”

Tony sê nadat die eindfluitjie geblaas het en Suid-Afrika die beker gelig het, het Damian na hom toe gekom waar hy gesit het. Hulle het ’n baie emosionele oomblik gehad.

Damian de Allende en sy meisie, Domenica Vigliotti, met die trofee. Foto: Instagram/Domenica Vigliotti

Damian was volgens Tony baie opgewonde om sy familie te sien in Japan aangesien hy al weke van die huis af weg is. “Damian hou daarvan om by die huis te wees, tussen sy mense. Ek kon sien hy het verlang.”

Tony het later saam met familie en vriende van die ander spelers by die Hilton-hotel in Tokiobaai aangekom waar die werknemers ’n erewag vir hulle gevorm het.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ek kan dit nie beskryf nie,” sê Tony emosioneel.

Hy het later saam met sy seun en sy spanmaats in die spankamer bymekaargekom om te sien hoe Kolisi sy pet vir sy 50ste toets ontvang.

“Dit was ’n wonderlike ervaring in daardie vertrek. Almal was vriendelik met my en baie van die spelers het my op die naam gegroet – dit het my baie spesiaal laat voel.”

Tony sê dit was duidelik dat daar ’n sterk band tussen al die spelers is en dat daar nie klieks of sekere groepies is nie.

Vrouens en meisies van die Springbok-spelers staan in ’n kring en bid voor die wedstryd. Foto: Facebook/Shenal Lauren Singh

“Dit was regtig vir my ’n hoogtepunt om te sien hoe goed hulle klaarkom en mekaar vier.”

Tony was ook ekstaties toe die Bokke as die Span van die Jaar aangewys is, die Bok-afrigter Rassie Erasmus as Afrigter van die Jaar en Pieter-Steph de Toit as Speler van die Jaar.

“Ek dink nie daar is enigiemand wat dit meer verdien as hulle nie. Hulle elkeen se toespraak, veral Rassie s’n, het nederigheid gewys en my baie beïndruk.”

En Tony het ook die geleentheid gekry om die Web Ellis-trofee vas te hou. “Ek het die kans gehad om my hande op ’n beker te lê wat baie Engelse graag eerder sou wou vashou,” sê hy laggend.

Tony sê Damian kom vroeg van Japan af terug. Volgens hom kon al die spelers nie saam terug Suid-Afrika toe vlieg nie, so hulle is in groepe verdeel.

Sodra hulle almal in die land is, gaan die spelers deur die land toer en Johannesburg, Pretoria, Soweto, Durban, Oos-Londen, Port-Elizabeth en uiteindelik Kaapstad aandoen. Dié toer begin Donderdag en eindig Maandag.

Maar Tony sê Damian gaan nie by al die plekke teenwoordig wees nie, want Vrydag is ’n spesiale dag vir sy broer.

Eden, Damian se oudste broer, haak Vrydag af en Damian sal dit vir niks misloop nie, sê Tony. Ná die troue gaan hy hom egter weer by die toer aansluit.