Rassie Erasmus se eerlikheid met sy Wêreldbeker-groep is volgens Bongi Mbonambi die rede waarom die Springbok-afrigter baie gewild onder die spelers self is.

“Hy is nie die soort afrigter wat dinge agter geslote deure doen nie,” sê Mbonambi, haker van die Bokke, op ’n vraag van ’n oorsese rugbyskrywer wat wou weet hoe Erasmus die skip omgedraai het.

Almal was volgens die oorsese skrywer voor Erasmus se aanstelling bekommerd oor waarheen die Bokke op pad is, maar word nou voor Sondag se halfeindstryd teen Wallis in Jokohama as ’n ernstige aanspraakmaker op die Wêreldbeker deur die res van die wêreld beskou.

“Hy doen dinge eerlik en voor die hele span dat almal daarvan weet. Hy plaas die spelers sodoende op hul gemak.

“Die spelers het meer agting vir iemand soos Rassie wat eerlik is en reguit vir hulle sê wat hy van elkeen verwag.

“’n Afrigter soos hy gee jou selfvertroue om jouself uit te druk. Hy plaas jou nie in ’n boks nie. Hy is iemand uitstaande in die span vanjaar.”

Vir Mbonambi het Erasmus op ’n persoonlike noot ’n massiewe invloed op die res van Suid-Afrika met sy besluite gehad sedert hy die Bok-afrigter geword het.

Die 28-jarige Mbonambi is versigtig dat die media sy woorde verdraai, maar beskou Erasmus onomwonde as die redder van Bok-rugby.

“Velkleur maak nie saak vir ’n speler in die span nie, of vanwaar jy kom nie. Rassie kies iemand wat hard werk en sy werk goed doen. Jy verdien jou plek só in die span.

“As ’n mens hom met vorige afrigters vergelyk, het dit gelyk asof hulle iemand gekies het wat al jare daar is, al kan jy sien hy bring nie sy kant nie.

“Nou word jy gekies deur die werk wat jy doen en hoe jy dit doen.”

Thomas du Toit was self vol lof vir sy afrigter toe ’n Japanse rugbyskrywer hom oor Erasmus se invloed op die span uitgevra het.

“Sy sterkpunt as ’n afrigter is dat almal in die groep op dieselfde golflengte is, die plan verstaan en in lyn met mekaar is,” het Du Toit gesê.

“Dit gaan nie noodwendig oor wat mense aan die buitekant sê nie, maar wat ons wil regkry en hoe ons aan die binnekant belyn wil wees.”