As jy ’n prins is, moet jy versigtig wees op ’n rugbyveld, want daar sal altyd iemand wees wat later sal wil spog dat hy “die prins se neus in die gras gedruk het”.

Obolensky se teenstanders wou graag sy neus in die gras druk. Foto: The Book of Rugby Lists

Dis dan ook geen verrassing nie dat prins Alexander Obolensky so blitsig was op ’n rugbyveld nie. Hy het geweet wat sou gebeur as iemand hom vang.

Obolensky het in 1936 bekendheid verwerf toe hy twee drieë in Engeland se roemryke eerste oorwinning oor die All Blacks in Londen gedruk het.

Hy is in 1916 in St. Petersburg, Rusland, gebore. Toe die Bolshevik-rewolusie ’n jaar later uitbreek, het sy gesin vir hul lewens gevlug.

Sy pa, Prins Alexis, het op Engeland besluit en toe sy seun oud genoeg was, het hy hom by die Brasenose College in Oxford laat studeer.

Dis waar Alexander, of Obo – soos hy deur sy spanmaats genoem is – die aandag op die rugbyveld met sy blitslopies begin trek het.

Obo was net 19 jaar oud toe hy in 1936 sy debuut as vleuel vir Engeland in ’n toets teen die All Blacks gemaak het.

Sy insluiting in die span het ’n storm kritiek ontketen. Hy was steeds nie as Brit erken nie en die owerhede het toe inderhaas die reëls vir hom gebuig.

Daar was op die dag van die toets – 4 Januarie – 70 000 toeskouers by Twickenham. Een van hulle was die prins van Wallis, prins Edward.

Van hom het die ondersteuners gou vergeet, want dit was die dag waarop “die Vlieënde Russiese prins” die wedstryd van sy lewe gespeel het.

Van hom het die ondersteuners gou vergeet, want dit was die dag waarop “die Vlieënde Russiese prins” die wedstryd van sy lewe gespeel het.

Vir 20 minute het dit gelyk of die magtige All Blacks baas sou speel, toe kry Obolensky die bal.

Hy het seker onthou hoe graag die seuns nie so lank gelede nog sy neus in die gras wou druk nie en het soos ’n vuurpyl afgesit hoek toe.

Daar was eenvoudig geen keer aan hom nie en van die Nieu-Seelandse verdedigers het dalk skielik soos skilpaaie gevoel toe hy die bal agter die doellyn plant.

Maar dit was net die inleiding tot Obolensky se prag-vertoning dié dag.

Vleuels het in Obolensky se speeldae nog die bal by die lynstane ingegooi en dis wat die Russiese prins hier doen. Foto: Getty Images

Kort voor die rustyd het Obolensky weer die bal gekry. Dit was aan die regterkant van die veld.

Obo het vasgesteek en verby twee verdedigers geglip. En toe mik hy met sy vebysterende vaart skuins oor die veld na die linkerkantste hoek.

“Dit was ’n merkwaardige en onverwagte lopie en ’n geniale drie,” het Vince Meredith, die All Blacks se bestuurder, Obo se tweede drie beskryf.

Dié drie is in daardie tyd oor en oor in ’n nuusfilm in die rolprent-teaters gewys en Obo is as die groot held in Engeland se geskiedkundige oorwinning van 13-0 oor die All Blacks uitgelig.

Obo het daarna in nog drie toetse vir Engeland gespeel en toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit.

Die prins het by die Britse lugmag aangesluit en het in 1940 tragies in vlieg-oefening gesterf. Daar het iets fout gegaan toe hy sy Hawker Hurricane in Suffolk geland het en hy het sy nek gebreek.

Hierdie standbeeld van Prins Obolensky, wat deur die kunstenaar Harry Gray gegiet is, staan in Cromwell Square in Ipswich, Engeland. Foto: Getty Images

Jare later, in 2009, toe daar ’n standbeeld van Obo in Cromwell Square in Ipswich onthul is, het sy niggie prinses Alexandra vertel dat sy ouers vir jare deur emosie oorweldig is wanneer hulle net Obo se naam gehoor het.

Saterdag is dit die Springbokke teen Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan en hoewel Engeland nie hierdie keer ’n Russiese prins op vleuel het nie, sal daar geen tekort aan selfvertroue by die Engelse wees nie.

Soos in 1936 het hulle vanjaar met die All Blacks afgereken en almal weet wat dit aan ’n span se selfbeeld doen.

* Kyk hier na Obolensky se twee drieë:

Bronne: The Union Game deur Sean Smith; Centenary – 100 Years of All Blacks Rugby deur R.H. Chester en N.A.C. McMillan; The Book of Rugby Lists deur Norman Giller; www.rugbyfootballhistory.com.