Engeland se kragspel, goeie verdediging en die betroubare skopvoet van Owen Farrell het Australië Saterdag in sy Wêreldbeker-kwarteindwedstryd in Japan geknak.

Die Engelse was in Oita met 40-16 baas nadat hulle rustyd met 17-9 voorgeloop het.

Engeland het in die middel van die eerste helfte hard geslaan toe sy linkervleuel, Jonny May, in die 18de en 20ste minute ’n tweekuns drieë gedruk het.

Vir sy eerste drie het May bloot ’n goeie aanval van die Engelse afgerond en vir sy tweede het hy ’n kort skoppie, wat die senter Henry Slade gelos het ná hy onderskep het, gejaag, die bal gekry en oorgeduik.

Owen Farrell, Engeland se losskakel en kaptein, het met altwee moeilike doelskoppe en ’n strafskop geslaag om sy span met rustyd te help voorloop.

Die Wallabies het soms goed aangeval, maar Engeland se verdediging was baie goed. Hier is dit Samu Kerevi wat tevergeefs deurkomkans soek.Foto: Getty Images

Australië, wat soms gevaarlik met die bal in die hand gelyk het, kon in die eerste skof net nege punte danksy drie strafskoppe deur sy losskakel, Christian Lealiifano, aanteken.

Daardie nege punte het die Wallabies darem binne trefafstand gehou en toe hul linkervleuel Marika Koroibete net ná rustyd ’n prag-drie druk, was sake weer amper gelykop wat die telling betref.

Die toeskouers het egter skaars gaan sit, toe storm die Engelse vaskopstut Kyle Sinckler deur ’n gat in die Wallabies se verdediging vir ’n drie wat sy span weer ’n punte-buffer gegee het.

Farrell het die telbord met drie strafskoppe aan die rol gehou en toe druk die Engelse regtervleuel Anthony Watson boonop kort voor die einde ’n onderskep-drie om die Wallabies se neus in die gras te vryf.

Punte: Engeland 40 (17): Drieë: Jonny May (2), Kyle Sinckler, Anthony Watson. Doelskoppe: Owen Farrell (4). Strafdoele: Farrell (4).

Australië 16 (9): Drie: Marika Koroibete. Doelskop: Christian Lealiifano. Strafdoele: Lealiifano (3).