Die humeure in die Engelse rugbykamp het Dinsdag op die oefenveld opgevlam en die afrigtingspan moes gemoedere kalmeer in die aanloop tot Saterdag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië.

Só het Elliot Daly, heelagter van Engeland, aan die media gesê ná dié rugbyspan se klipharde oefening.

“Daar was baie energie op die oefenveld. Ons moes vandag plek-plek ’n bietjie die leisels intrek, omdat die ouens meegevoer geraak het.

“Dit is vir almal die oorkoepelende tema – om te sien hoe ver hierdie span kan vorder.”

Met Engeland se laaste groepwedstryd teen Frankryk wat die afgelope naweek weens die supertifoon Hagibis gekanselleer is, beteken dit dat die Engelse laas op 5 Oktober ’n wedstryd gespeel het. Daar is diegene wat reken dat dít in die Wallabies se guns tel, omdat Engeland ietwat verroes gaan wees.

Boonop is Engeland nog nie regtig in die toernooi getoets nie; hy het gemaklik met Tonga (35-3), Amerika (45-7) en die Argentyne (39-10) – wat ’n swak toernooi gehad het – afgereken.

En hoewel sommige meen dat die lang rustyd die Rose kan kniehalter, sê Daly die span vergoed daarvoor met “vurige” oefeninge.

“Die manier waarop ons die laaste drie, vier weke oefen, is om wedstryde na te boots. Dit het sover regtig baie goed vir ons gewerk,” sê hy.

Die agtsteman Billy Vunipola het aan die oefening deelgeneem en dit lyk asof hy die enkelbesering waarmee hy gesukkel het, afgeskud het. Tog het die vleuel Jack Nowell die aksie van die kantlyn af dopgehou.

John Mitchell, hulpafrigter van die Engelse, sê Vunipola, ’n sterk baldraer, behoort fiks te wees om vir die kragmeting met die Aussies oorweeg te word.

“Hy is ’n baie belangrike speler vir ons. Hy hou daarvan om die bal in sy hand te hê en hy is baie goed daarmee om ons op die voorvoet te kry.”

Indien Vunipola nie oorweeg kan word nie, behoort Mark Wilson die nr. 8-trui te dra.

En hoewel Engeland in sy laaste ses toetse teen die Wallabies aan die wenkant was, is daar by Mitchell geen twyfel nie dat die Aussies ’n onverwagse haas of twee uit die hoed sal pluk.

“Nadat ek ’n aantal spanne teen wie Australië gespeel het bekyk het en ook as jongeling teen hulle gespeel het, weet ek dat hulle baie dink oor die manier wat die spel gespeel word.

“Hulle was nog altyd slim en dit is iets wat ek respekteer. Hulle het altyd die vermoë om te verras,” sê Mitchell.  – Reuters

  • Die Franse skeidsregter Jérôme Garcès sal die wedstryd beheer.