Engeland gee Sondag die spreekwoordelike eerste tree om genesing te vind vir daardie tranedal van vier jaar gelede toe hy – op tuisbodem – nie die uitspeelrondes van 2015 se Wêreldbeker-rugbytoernooi gehaal het nie.

Eddie Jones se troepe kom Sondag teen Tonga in Sapporo, Japan, te staan. En hoewel Tonga kwalik die Engelse slapelose nagte sal besorg, weet Jones maar te goed dat jy geen teenstander kan onderskat nie. En dat die ou mense iets gesê het van goed begin, is half gewin.

Dit was immers Jones wat Japan in 2015 tot die roemryke skoksege oor die Springbokke in Brighton gebrei het.

Daardie Engelse vernedering van 2015, voor hul tuisskare, het die einde van Stuart Lancaster se termyn as breier van Engeland beteken. So Jones weet sy loopbaan kan gemaak of gebreek word.

Groep C is vanjaar juis ’n moeilike groep, met Frankryk, Argentinië en Amerika wat hulle ook daar bevind. Dit beteken dat een van die groot spanne ’n vroeë vlug huis toe gaan hê en die uitkloprondes op TV sal moet dophou.

Sedert Jones laat in 2015 as Engeland se afrigter aangewys is, was sy fokus op die verowering van die WB vanjaar. Tonga sal seker nie oorloop van selfvertroue ná die All Blacks hom net nou die dag met 92-7 afgeslag het nie, maar Jones weet sy span sal moet uithaal en wys.

“Op hierdie oomblik is ons aan die bopunt van ’n wipwaentjie-rit en almal is opgewonde. Wanneer jy egter onder kom, is jy nie seker of jy gaan opgooi en kan vasklou nie.

“Die spelers het hulself toegerus om die wipwaentjie te ry, want daar gaan skielike draaie, ongelukke en ook lekkerte wees,” sê Jones.

Eddie Jones praat Vrydag met die media in Sapporo, Japan. Foto: Getty Images

En omdat die uitgeslape Jones niks aan die toeval wil oorlaat nie, het hy met twee uitsonderings na dieselfde span gekies as wat Ierland onlangs opgefrommel het.

Moenie dink Tonga se afrigter, Toutai Kefu, is nie bewus van die bykans onbegonne taak wat op sy span wag nie.

“Hierdie is ’n reuse-uitdaging vir ons, maar ons het niks om te verloor nie. Ek dink tog Engeland is onder meer druk as ons.

“Hy (Jones) het ’n sterk span gekies, maar is daar ooit ’n swak Engelse span? Ek dink nie daar is met hierdie groep nie,” sê Kefu.

– Reuters, Sportredaksie

Spanne

Engeland: Elliot Daly, Anthony Watson, Manu Tuilagi, Owen Farrell (k), Jonny May, George Ford, Ben Youngs, Billy Vunipola, Sam Underhill, Tom Curry, Maro Itoje, Courtney Lawes, Kyle Sinckler, Jamie George, Joe Marler. PLAASVERVANGERSBANK: Luke Cowan-Dickie, Ellis Genge, Dan Cole, George Kruis, Lewis Ludlam, Willi Heinz, Henry Slade, Jonathan Joseph.

Tonga: David Halaifonua, Atieli Pakalani, Siale Piutau (k), Cooper Vuna, Viliami Lolohea, Kurt Morath, Sonatane Takulua, Maama Vaipulu, Fotu Lokotui, Sione Kalamafoni, Leva Fifita, Sam Lousi, Ben Tameifuna, Sosefo Sakalia, Siegfried Fisiihoi. PLAASVERVANGERS: Siua Maile, Latu Talakai, Ma’afu Fia, Dan Faleafa, Nasi Manu, Leon Fukofuka, James Faiva, Nafi Tu’itavake.

  • Skeidsregter: Paul Williams (Nieu-Seeland).
  • Assistent-skeidsregters: Shuhei Kubo (Japan) en Mathieu Raynal (Frankryk).
  • TV-skeidsregter: Ben Skeen (Nieu-Seeland).
  • Afskop: Sondag 12:00 (SS 1).