Die hoofrede dat die All Blacks Saterdag droëbek gaan sit wanneer die Springbokke en die Engelse sake uitspook in die Wêreldbeker-eindstryd, is Faf de Klerk en Rassie Erasmus.

Diegene wat so lustig klippe bymekaar wil maak om daardie blondekop-buksie van die Bokke met die lang lokke te wil stenig, sal in hul graanvlokkies stik as hulle dié lees.

Tog is die eertydse Bok-vleuel Pieter Hendriks oortuig daarvan dat De Klerk en die Bok-breier Erasmus die hoofargitekte is van die All Blacks se ondergang by die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Hoe Hendriks die kloutjie by die oor bring, is dat die druk wat Faf de Klerk en sy Bok-spanmaats op Beauden Barrett geplaas het sedert Rassie Erasmus afrigter geword het, die All Blacks gedwing het om Barrett vanjaar van losskakel na heelagter te skuif.

“Dit het met die Nieu-Seelanders se koppe gesmokkel en was dit die groot rede hoekom hulle Barrett eerder op heelagter gespeel en Richie Mo’unga op losskakel gekies het,” sê Hendriks.

Pieter Hendriks (regs) in 2015 saam met Francois Pienaar (middel) en Marius Hurter by die 20-jarige herdenking van hul WB-triomf in 1995. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n groot fout en het hulle ondergang in die halfeindstryd teen Engeland bewerkstellig. Op heelagter sien Barrett omtrent 70 persent minder van die bal as op losskakel. En onthou, hy is beskou as een van die invloedrykste losskakels ter wêreld.

“Ek sê jou nou, as daar een mannetjie is wat die Engelse in die eindstryd kan knak met die druk wat hy uitoefen, is dit daai Faf. Ek kan nie glo soveel mense staar hulle blind teen die patroon waarvolgens hy speel met sy taktiese skoppe nie.

“Daar is soveel meer aan hom as net daardie hoë lugskoppe en hy is werklik briljant. Die Springbokke is baie gelukkig om iemand soos hy te hê,” reken Hendriks.

“Met Barrett op losskakel kon dinge soveel anders vir die All Blacks in die halfeind teen Engeland verloop het. Op heelagter was hy weg van die aksie en was sy aanvalskanse soveel minder en beperk,” voel Hendriks.

“Nee wat, ek dink die Suid-Afrikaanse rugbypubliek moet verby die feit kyk dat Faf baie skop en begin oplet watter skitterende werk hy doen met die druk wat hy plaas op spelers en hoe hy spanne man-alleen kan ontwrig met hoe lastig hy is en sy puik verdediging,” sê die man wat die Wêreldbeker in 1995 laat vlam vat het met sy drie in die openingswedstryd teen die Wallabies op Nuweland in Kaapstad, toe hy om David Campese is om die doellyn vuis in die lug oor te steek.