Die Springbokke se afrigtingspan het nog nooit in Faf de Klerk se vermoëns getwyfel nie.

“Ons bly in die ouens glo, aangesien ons hulle gereeld sien oefen,” het Rassie Erasmus ná De Klerk se Speler van die Wedstryd-vertoning in die sege van 26-3 oor Japan in die Wêreldbeker-kwarteindstryd in Tokio gesê.

“Ons ontleed ook ander dele van hulle spel as byvoorbeeld net watter drieë hulle druk of as daar ’n swak lugskop uitgevoer word.

“Al sien ander mense soms net die negatiewe in spelers raak, weet ons dit is net ’n kwessie van tyd voordat spelers hul spelpeil herwin.

“Ek is bly dat Faf as die Speler van die Wedstryd aangewys is. Hy het goed gespeel en dit sal baie vir sy selfvertroue beteken.

“Iemand soos Frans (Malherbe) het ook nie net sterk geskrum nie, maar hy het goed geduik en die bal ’n paar keer sterk gedra. Damian (de Allende) het ook wéér goed gespeel,” het Erasmus gesê oor twee ander Bokke, wat ook dikwels vir kritiek uitgesonder word.

“As afrigtingspan hoop ’n mens altyd die ouens kom reg, veral voor groot toetse soos ’n halfeindstryd en ’n eindstryd.

“So die tydsberekening was goed.”

De Klerk het teen Japan waarskynlik die voorste verdedigende vertoning deur ’n skrumskakel in vanjaar se WB-toernooi gelewer.

Hy het wel nie soveel duikslae soos Lood de Jager se 15, De Allende se 14 of Cheslin Kolbe se 11 uitgevoer nie, maar syne was waarskynlik net so belangrik soos hulle s’n saam.

Die 28-jarige De Klerk hoop hy is ná sy vertoning ’n knipmes ryker.

Jacques Nienaber, die verdedigingsafrigter van die Bokke, wys sy voorste verdediger van die toets egter eers volgende week aan waartydens hy die spesiale knipmes sal oorhandig.

De Klerk erken vandag se vertoning sal baie vir sy selfvertroue met die oog op die halfeindstryd teen Wallis (komende Sondag in Jokohoma) help.

Sy eerbewys as Speler van die Wedstryd was egter vir hom onverwags aangesien hy net gedoen het wat sy afrigters van hom verwag.

“Die Japannese spelers val regtig so goed aan, so ons het geweet dat dit ’n massiewe verdedigingspoging sal verg,” het De Klerk gesê.

“Om hierdie oorwinning te behaal, is absoluut verstommend. Om selfs net met een punt in ‘n Wêreldbeker-kwarteindstryd te wen is genoeg.

“Ons moes lank ‘kolf’ voordat ons telborddruk kon bou.

“Ek het foute gemaak waaraan ek kan werk, maar in die geheel is ek baie tevrede met my vertoning. Hopelik kan ek hierop voortbou.

“Dit was baie fisiek, veral omdat hulle die bal so lank vasgehou het. Maar dit was ’n lekker toets wat ek baie geniet het.”

De Klerk is veral ingenome met sy drie wat hy ná ’n uitstekende dryfmaalbeweging deur sy voorspelers behaal het.

“Dit was ongelooflik. Ek het eintlik terwyl die dryfmaalbeweging aan die gang was na Lood de Jager gekyk en begin lag oor hoe ongelooflik goed die dryfmaalbeweging gewerk het.

“Lood het die heeltyd aan my gesê om die bal in die dryfmaalbeweging te los aangesien ons vorentoe beweeg. Ook hy het geglimlag.

“Ek dink die drie was ’n belangrike keerpunt aangesien dit vanuit ons eie kwartgebied begin het. Ons het nooit van ons wedstrydplan afgewyk nie, dit was baie belangrik.”

Iets wat De Klerk voor die kwarteindstryd moes aanspoor, moet die mededinging onder die skrumskakels in die Bok-groep wees.

Cobus Reinach was byvoorbeeld uitstaande in ’n groepwedstryd teen Kanada. Reinach bied met sy vaart iets anders as De Klerk op die aanval.

Herschel Jantjies hou De Klerk self op sy tone.