Die Switserse tennis-ikoon Roger Federer, wat Suid-Afrikaanse bloed het, het die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, met sy span se “puik sege” in die Wêreldbekertoernooi gelukgewens.

Die Springbokke het Engeland Saterdag in ’n skouspelagtige eindstryd in Jokohama, Japan met 32-12 verslaan.

Die 38-jarige Federer, wie se ma ’n Suid-Afrikaner is, het Sondag ’n video op sy Twitter-rekening gedeel waarin hy die Springbokke oor hul vertoning loof.

“Siya, dis Roger hier. Ek kan nie nog meer gelukkig wees vir julle nie. Geluk aan jou en die span. Wat ’n sege, wat ’n puik spanpoging van julle ouens wat so baie tyd saam deurgebring het,” sê Federer.

Hy sê verder hy wil Kolisi graag ontmoet.

“Ek het dit (die wedstryd) gekyk, ek het dit gevolg, ek was op die sypaadjie waar ek die einde gekyk het. Baie, baie geluk en ek wens ek kan jou gou ontmoet. Jy is die beste. Puik, puik almal, julle was ongelooflik,” sê Federer.

Netwerk24 het vroeër berig toe die CNN-verslaggewer Christina Macfarlane verlede maand by Federer wou weet wie hy dink die Wêreldbeker gaan wen, hy geantwoord het hy hoop Suid-Afrika of Australië.

Macfarlane het toe getwiet Federer het, toe hy nog jonk was, skrums met sy pa geoefen.

Teen Sondagaand is Federer se twiet meer as 5 300 keer gedeel. Altesaam 33 000 mense het daarvan gehou.

Federer kom volgende jaar Suid-Afrika toe wanneer hy op 7 Februarie in ’n liefdadigheidswedstryd teen die Spanjaard Rafael Nadal in Kaapstad sal speel.

https://twitter.com/cnnsport/status/1184774015413567488