Michael Cheika, die Wallaby-afrigter, was voor sy span se eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Fidji duidelik ontspanne en in ’n ligte luim.

Min het hy geweet wat op sy span wag in die Sapporo Dome in Groep D van die toernooi.

Die Aussies het uiteindelik maklik 39-21 gewen ná 27 onbeantwoorde punte in die tweede helfte, maar dit was geen piekniek nie.

Hulle het eers in die 61ste minuut – nadat hulle vroeër bang geduik is – die voortou geneem.

Die eilandmanne het die Aussies soos ’n wit tornado getref in die eerste helfte.

Hulle het die Wallabies duidelik ontsenu met hul genadelose plettervatte en was vroeg-vroeg met 8-0 voor toe die Fidjiaanse flank Peceli Yato in die hoek oor is aan die einde van ’n puik agterlynbeweging.

Hoewel Australië oorheers het in die vaste fasette, het Fidji slim gespeel met hul losskakel, Ben Volavola, wat sy spel netjies afgewissel het.

Waisea Nayacalevu, Fidji se buitesenter, het sy span se voorsprong teen rustyd (14-12) na 21-12 gerek toe hy eienaarskap geneem het van ’n swak Wallaby-aangee in die middelveld en onder die pale oorgeduik het.

Yato is daarna af met ’n kopbesering en Nayacalevu se sentermaat, Levani Botia, het met 20 minute se speeltyd oor, ’n geelkaart gekry vir ’n oortreding by ’n losgemaal.

Dit het Australië in staat gestel om ten volle beheer te neem.

Fidji het algaande stoom verloor en het nie met dieselfde intensiteit en passie gespeel waarmee hulle die Wallabies vroeër teen die toue gehad het nie.

Die ou jakkals David Pocock was ’n al hoe groter faktor by die afbreekpunte en die wenspan se plaasvervangers het gehelp om die uitklophou in te kry.

Die Fidjiane sou, heel voorspelbaar, nie die volle 80 minute kon byhou nie, maar hulle het oudergewoonte hope vermaak gebied.

Puntemakers:

Australië 39 (12). Drieë: Michael Hooper, Reece Hodge, Tolu Latu (2), Samu Kerevi, Marika Koroibete. Strafdoel: Hodge. Doelskoppe: Christian Leali’ifano, Matt Toomua (2).

Fidji 21 (14). Drieë: Peceli Yato, Waisea Nayacalevu. Strafdoele: Ben Volavola (3). Doelskop: Volavola.