John McKee, afrigter van Fidji se rugbyspan, het sy spelers aangemoedig om op die strand en in die branders te herstel van hul wedstryd teen die Wallabies, voor hulle Woensdag in Kamaisji in Groep D van die Wêreldbeker-toernooi teen Uruguay te staan kom.

Die Fidjiane is daaraan gewoond om ’n rugbybal op die strand rond te gooi en McKee glo dit is die beste terapie ná Saterdag se klipharde kragmeting met Australië.

“Ons het beplan vir die wedstryde so kort ná mekaar en ons het geweet ons sal moet aanpas.

“Een van die eerste goed wat ons gedoen het, was om in die see te gaan swem.

“Dit is iets anders, maar dit was baie goed vir die spelers.

“Ek dink dit het hulle laat ontspan, want dit is nie net die seer lywe nie, maar ook die sielkundige tamheid wat ons gehad het ná die groot wedstryd in Sapporo.”

Fidji was Saterdag goed op koers om vroeg in die toernooi ’n opskudding te veroorsaak en was in ’n stadium ná rustyd met 21-12 voor teen die Wallabies.

Die tweemalige WB-kampioen het daarna die skroewe aangedraai en met 39-21 geseëvier.

Daar was agterna ongelukkigheid oor die Wallaby-vleuel Reece Hodge se duikslag op Fidji se invloedryke flank Peceli Yato.

Hodge het nie sy arms gebruik nie en Yato het die res van die wedstryd weens harsingskudding misgeloop.

Hoewel Hodge sedertdien uitgewys is, is daar kenners wat van mening is dat die duikslag ’n rooikaart geregverdig het.

“Ons het ’n speler verloor, wat in daardie stadium een van ons belangrikste spelers op die veld was.

“Vanweë sy kopbesering kan hy ook nie in ons volgende wedstryd speel nie. So, dit hét ons baie duur te staan gekom.”

Hoewel Uruguay, wat 19de op die wêreldranglys is, in 2018 met 68-7 deur Fidji afgeslag is, verwag McKee dat die Los Teros (Uruguay se bynaam wat ’n verwysing is na hul land se nasionale voël) nou beter voorbereid sal wees.

“Ons weet Uruguay het verbeter en ons staal ons dat hulle meer fisiek sal wees as die vorige keer wat ons teen hulle gespeel het.” – Reuters

Afskop: 07:15 (SA tyd, SS 1).