Die afgelope ruk is wyd en syd vertel dat Ierland se rugbyspan nie eintlik die nr. 1-posisie op die wêreldranglys waardig is of ’n werklike aanspraakmaker is om vanjaar die Wêreldbeker (WB)-toernooi te wen nie.

Maar die Iere het hulle duidelik nie aan daai praatjies gesteur nie toe hulle Skotland Sondag in hul eerste kragmeting by vanjaar se WB met 27-3 in Jokohama, Japan geklop het.

Skotland was van die begin af onder druk. Ierland se eerste drie drieë is almal deur voorspelers gedruk, wat aandui dat die Skotte voorlangs geknak is.

Twee Iere, die slot James Ryan en die flank CJ Stander, wat sy hart uitgespeel het, het albei by geleenthede by losskrums weggebars met die bal onder die arm sonder dat ’n hand op hulle gelê is.

Boonop is Skotland se gevaarlike agterlyn nie beweegruimte gegun nie, deur veral in die gevaarlike heelagter Stuart Hogg se gesig te boer. Dan het die Ierse senter Bundee Aki, voordat hy die veld met ’n besering verlaat het, nie net die Skotte stukkend geduik nie, maar ook by twee geleenthede omgekeerde besit vir sy span bewerkstellig.

Skotland se plan was duidelik: Peper die onervare agterlyn en veral die agterste driehoek van Ierland met hoë balle. En hoewel die vleuel Andrew Conway een keer en selfs die skrumskakel Conor Murray twee keer misgetas het, was die heelagter Jordan Larmour nie kwesbaar onder die hoë bal nie.

Larmour en die vleuel Jacob Stockdale het albei ’n paar keer goeie lopies ingekry wanneer die bal na hulle kant toe gekom het. Dit was juis Ierland se vierde drie, vir die bonuspunt, deur die vleuel Andrew Conway, wat gekom het nadat Larmour ’n skop van Murray opgevolg het.

In die tweede helfte het die reën uitgesak en hoewel die Skotte aanvanklik gelyk het asof hulle ’n plan het, was dit gou duidelik dat hulle behoorlik uitoorlê is.

Ierland sal duim vashou dat die skynbare beenbesering waarmee sy losskakel Johnny Sexton sukkel nie te ernstig is nie. Hy het eers in die tweede helfte die veld verlaat, maar Murray het reeds halfpad deur die eerste helfte die stelskopwerk by hom oorgeneem.

Puntemakers:

Ierland 27 (19): Drieë: James Ryan, Rory Best, Tadhg Furlong, Andrew Conway. Doelskoppe: Johnny Sexton, Conor Murray. Strafdoel: Jack Carty.

Skotland 3 (3): Strafdoel: Greig Laidlaw.