Daar was helde, onbesonge helde en ongesiene helde in Suid-Afrika se Wêreldbeker-triomf in Japan.

Robbie Fleck, die Stormers se voormalige afrigter, val straks in laasgenoemde kategorie vir die aandeel wat hy gehad het in die vorming van die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, as ’n leier.

Fleck het vir Kolisi in 2017 as die Stormers se kaptein vir die Superrugby-reeks aangestel.

“Dit het by Robbie Fleck begin. Hy kry nie genoeg erkenning vir dít wat hy in Siya raakgesien het nie,” sê Henning Gericke, destyds die Stormers se sielkundige.

Volgens Gericke het hy en Fleck voor die seisoen in 2017 oor die kwessie van leierskap besin.

Siya het geen ego nie, bring mense bymekaar, is taai en is nie ’n skouponie nie.

“Een van die hoofkwessies was spankultuur en watter ou dit die beste sal kan dryf. Ons het iemand sonder ’n ego gesoek,” sê Gericke.

“Siya het geen ego nie, bring mense bymekaar, is taai en is nie ’n skouponie nie.”

Gericke sê die geboorte van Kolisi se seun, Nicholas, in 2015, het vir die Bok-kaptein ’n doel in die lewe gegee.

“Siya was op soek na homself. Hy het die verantwoordelikheid besef en toe hy daarna as kaptein aangestel is, het alles bymekaar gekom,” sê Gericke.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - MAY 21: Siya Kolisi duri
Siya Kolisi tydens 'n oefensessie van die Stormers. Foto: Gallo Images

Fleck sê Kolisi se grootste sterkpunt is dat hy mense laat voel dat hulle hulself in sy geselskap kan wees.

“Hy het die vermoë om jou tuis en ontspanne te laat voel. Dis ’n natuurlike ding en hy bereik daardeur elke speler – ongeag sy agtergrond, kultuur of ras. Jy kan jouself voor hom wees, want hy’s altyd homself. Hy’s opreg en kruip nie agter ’n masker weg nie,” sê Fleck.

As Siya ’n storie vertel of op die veld praat, luister mense

“Siya is naby aan ouens van alle agtergronde. Hy is Eben (Etzebeth), Cheslin (Kolbe) en Beast (Tendai Mtawarira) se beste maat. Hy’s ook nederig en respekvol. Mense sien dit raak en waardeer dit.”

Fleck sê hy het die potensiaal in Kolisi vroeg reeds raakgesien.

“Ek was betrokke by die WP sedert Siya 18 jaar oud was en by die unie aangekom het. Hy was indrukwekkend met die manier waarop hy geoefen het en iemand wat jy van gehou het, maar as ’n leier toe nog ongeslyp,” sê hy.

Volgens Fleck was dit nie nodig om ’n leierskapshandleiding onder Kolisi se neus te druk nie.

“Jy kry ouens wat lees oor hoe om leiers te wees en ander wat leierskap net van nature het. As Siya ’n storie vertel of op die veld praat, luister mense,” sê Fleck.

“Die eienskappe wat ons in die huidige Bok-span sien – op die veld en hoe hulle weg daarvan en teenoor mekaar optree – kom van Siya af.”