Francois Louw groet toetsrugby op ’n hoogtepunt nadat Suid-Afrika die Wêreldbeker met 32-12 teen Engeland in Jokohama gewen het.

Nóg een van die Bok-helde, Beast Mtawarira, beplan om binne die volgende paar dae ’n aankondiging oor sy toekoms te maak.

Toe Duane Vermeulen oor sy toekomsplanne uitgevra is, het hy gesê dit voel of hy vir nog vier jaar kan aanhou speel nadat hy die Wêreldbeker omhoog gehou het.

“Dit was amptelik my laaste wedstryd vir Suid-Afrika,” het die 34-jarige Louw met groot tevredenheid gesê.

“Tien jaar en 76 wedstryde ... ek kon nie vir iets meer spesiaal en groter vra nie.

“Dit was ’n lang pad. Soms ’n moeilike pad.

“Ek het van die twee donkerste jare in Bok-rugby beleef.

Ek het van die twee donkerste jare in Bok-rugby beleef.
Francois Louw

“Om op só ’n wyse terug te veg met ’n verenigde span wat Suid-Afrika verteenwoordig, is iets wat ek vir die res van my lewe sal onthou.”

Louw, wat die belangrike omgekeerde balbesit in die 73ste minuut teen Wallis gewen het wat tot Handré Pollard se beslissende strafdoel in daardie oorwinning van 19-16 gelei het, glo die Bokke se ontleding van teenstanders het hulle in ’n goeie posisie geplaas om Engeland in die eindstryd te klop.

“Maar ons moes steeds 80 minute se rugby gespeel het. Vandag was ons dag.

“Ons het ’n paar truuks gehad en ons wedstrydplan net hier en daar aangepas. ’n Paar dinge het ook in ons guns gegaan, meer as in ander wedstryde.

“Ons skrum was vandag ongelooflik. Jy kan nie vir meer vra as die vyf strafskoppe wat ons in die skrum afgedwing het nie,” sê Louw.

Ons het ’n paar truuks gehad en ons wedstrydplan net hier en daar aangepas.
Francois Louw

Die lynstane en dryfmaalbewegings het nie altyd in die eindstryd uitgewerk soos dit moes nie, maar die Bokke se gebalanseerde vertoning het Louw baie tevrede gestel.

Dié wen oor Engeland was vir hom veral spesiaal nadat hy in die kwarteindstryd in 2011 en in die halfeindstryd in 2015 van die Wêreldbeker uitgeskakel is.

“Dit was ’n taai toernooi en ’n moeilike begin teen die All Blacks in ons eerste wedstryd.

“Ons ouens het Engeland met die regte ingesteldheid benader. Iemand soos Felix Jones het vir ons ’n ekstra dimensie gegee.

“Almal het in sy planne ingekoop. Dit was ’n fantasties wyse om my loopbaan af te sluit.”

Louw sal nog klubrugby vir die Engelse klubspan Bath speel.

Mtawarira, wat in ’n verwoestende luim in die skrums teen Engeland was, sal nie nét ’n aankondiging oor sy toetsloopbaan maak nie. Hy kan ook bevestig dat hy by die Haaie klaargemaak het en op pad oorsee is.