Ná tien jaar en 76 wedstryde het Francois Louw gister die lekkerste oomblikke van sy toetsloopbaan beleef – en ook sy laaste.

Die 34-jarige Louw het ná die Bokke se wegholoorwinning van 32-12 teen die Engelse in die Wêreldbekereindstryd gesê dit was “amptelik my laaste wedstryd vir Suid-Afrika”.

Francois Louw jubel met die Webb Ellis-trofee in sy hande.Foto: Getty Images

“Tien jaar en 76 wedstryde . . . ek kon nie vir iets meer spesiaal en groter vra nie,” het hy gesê.

“Dit was ’n lang pad. Soms ’n moeilike pad. Ek het twee van die donkerste jare in Bok-rugby beleef.

“Om op so ’n manier terug te veg, met ’n verenigde span wat die hele Suid-Afrika verteenwoordig, is iets wat ek vir die res van my lewe sal onthou.”

Louw, wat die belangrike omgekeerde balbesit in die 73ste minuut teen Wallis gewen het wat tot Handré Pollard se beslissende strafdoel in daardie oorwinning van 19-16 gelei het, glo die Bokke se ontleding van teenstanders het hulle in ’n goeie posisie geplaas om Engeland in die eindstryd te klop.

“Maar ons moes steeds 80 minute se rugby gespeel het. Vandag was ons dag.

“Ons het ’n paar truuks gehad en ons wedstrydplan net hier en daar aangepas. ’n Paar dinge het ook in ons guns gegaan, meer as in ander wedstryde.

“Ons skrum was vandag ongelooflik. Jy kan nie vir meer vra as die vyf strafskoppe wat ons in die skrum afgedwing het nie.”

Die lynstane en dryfmaalbewegings het nie altyd in die eindstryd uitgewerk soos dit moes nie, maar die Bokke se gebalanseerde vertoning het Louw baie tevrede gestel.

Die oorwinning oor Engeland was vir hom veral spesiaal omdat hy in die Bok-spanne was wat in 2011 se WB-kwarteindstryd en 2015 se WB-halfeindronde uitgeskakel is.

“Hierdie was ’n taai toernooi met ’n moeilike begin teen die All Blacks in ons eerste wedstryd.

“Ons ouens het Engeland gister met die regte ingesteldheid benader. Iemand soos (die vaardigheidsafrigter) Felix Jones het vir ons ’n ekstra dimensie gegee. Almal het in sy planne ingekoop.”

Louw se toetsloopbaan is nou iets van die verlede, maar hy sal nog klubrugby vir die Engelse klubspan Bath speel.

Nog een van die Bok-helde, Beast Mtawarira, beplan om binne die volgende paar dae ’n aankondiging oor sy toekoms te maak. Die 35-jarige bielie-stut, wat met 117 toetse op sy kerfstok die Bokke se mees ervare speler is, sal nie net ’n aankondiging oor sy toetsloopbaan maak nie. Hy kan ook bevestig dat hy by die Haaie klaargemaak het en op pad oorsee is.

Toe Duane Vermeulen (33) oor sy toekomsplanne uitgevra is, het hy gesê dit voel of hy nog vir vier jaar kan aanhou speel nadat hy die Wêreldbeker omhoog gehou het.