Die skeidsregter Nigel Owens het sy fluitjie gekry vir Vrydag se openingswedstryd van die Wêreldbeker (WB)-rugbytoernooi waarin die gasheer, Japan, en Rusland mekaar pak.

Twee moedige fietsryers, die Suid-Afrikaanse avonturier en sakeman Ron Rutland en James Owens, het Donderdag die fluitjie aan hom besorg nadat hulle ná 231 dae en 20 000 km in Tokio aangekom het.

Dié twee en die fluitjie het in Februarie van Twickenham in Londen per fiets na Japan vertrek.

Rutland het voor die WB-toernooi in 2015 (in Engeland en Wallis) ’n soortgelyke rit onderneem. Toe het hy van Kaapstad na Londen gereis.

James Owens, wat in Viëtnam werk en wie se pa ’n ortopediese chirurg in Hongkong is, was voor dié epiese rit egter ’n betreklik nuwe fietsryer.

Hulle het deur 27 lande gereis ter wille van bewusmaking en om geld vir ChildFund Pass It Back in te samel. Dié liefdadigheidsorganisasie werk saam met Wêreldrugby om minderbevoorregte kinders in Asië deur middel van rugby te bemagtig.

“Dit is wonderlik om hier te wees, dit is eintlik surrealisties,” sê James Owens, wat nie aan die Walliese skeidsregter verwant is nie.

“Ons het ’n helse reis gehad sedert ons ses maande gelede van Londen vertrek het, maar ons het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad. Dankie vir almal wat ons reis – en dié van die WB-fluitjie – gevolg het. Ons het ’n paar avonture gehad,” sê Owens.

Die twee sal die volgende ses weke die WB-toernooi bywoon.

“Dit gaan moeilik wees om dié twee ouens na te doen,” sê Alan Gilpin, die toernooidirekteur.

“Ons sal die volgende ses weke moet uithaal en wys.”

Nigel Owens was ook die skeidsregter in 2015 se eindstryd in Engeland. – Reuters