Nieu-Seeland se hulpafrigter Ian Foster het ’n vraag oor die All Black-kaptein, Kieran Read, se betrokkenheid by ’n omstrede voorval in die All Blacks se wedstryd teen Suid-Afrika Maandag netjies gesystap.

Die Nieu-Seelanders het hul Wêreldbeker-veldtog Saterdag op ’n hoë noot afgeskop deur die Springbokke met 23-13 te klop, maar hul oorwinning is sedertdien oorskadu deur talle ongestrafte insidente wat op sosiale media gedeel is.

Hieronder tel beeldmateriaal wat wys hoe Read die Springbok-flank Pieter-Steph du Toit ná ’n lynstaan van agter om die keel gryp om hom van die skrumskakel Aaron Smith weg te hou.

Die Franse skeidsregter Jérôme Garcès het die voorval egter ongestraf gelaat en Read is ook nie soos vereis binne 24 uur ná die wedstryd daarvoor uitgewys nie.

Sosiale media gons oor die voorval, en baie vra dat Read berispe word.

Toe hy Maandag op ’n mediakonferensie oor die voorval gepols is, het Foster erken dat hy dit gesien het. In plaas daarvan om kommentaar te lewer het hy eerder op “die aantal kameras en oë” op elke wedstryd gefokus.

“Ek dink die (rugbywêreld) moet weer herinner word dat hierdie Wêreldbeker waarskynlik fyner dopgehou word as enige ander, met die aantal kamers en mense wat daarna kyk. En ons het televisie-skeidsregters en uitwysbeamptes.

“Mense moet eerder vertroue in daardie proses hê as om op sosiale media te gaan reageer,” het Foster volgens stuff.co.nz gesê.

– Sportredaksie