Die eindfluitjie het skaars geblaas toe dawer juigkrete van die Kaap tot in Pretoria. Netwerk24 se fotograwe het dié geskiedkundige oomblikke vasgelê.

Dié ondersteuners by die V&A Waterkant in Kaapstad skree hulself sommer uit fokus uit terwyl hulle die groot oomblik op hul selfone vaslê. Foto: Jaco Marais
Die bier spuit ’n stralekrans om dié rugbyondersteuner van Pretoria, met ’n rugbytrui wat sommer al die bobaas-spanne se logo’s op het. Maar die groot juigkreet is vir die Springbokke! Foto: Deaan Viviers
In Midrand het niemand bly sit toe die eindfluitjie by ’n plaaslike kuierplek blaas nie. En soos by talle ander plekke is die oomblik vir die digitale nageslag op selfoon verewig.Foto: Felix Dlangamandla
Een span, een nasie, een hart. ’n Ondersteuner by die V&A Waterkant in Kaapstad wys haar liefde vir die seëvierende Springbokke. Foto: Jaco Marais
’n Reuse-skare by die V&A Waterkant geklee in Groen-en-goud, en sommer al die ander kleure van die landsvlag, het trots opgespring en bly staan lank nadat die eindfluitjie geblaas het. Hier en daar was ’n paar Rose-ondersteuners in wit geklee, maar selfs al het hul span verloor, het almal die Springbokke se oomblik van glorie geniet. Foto: Jaco Marais
Juigende ondersteuners van die Springbokke gooi hulle hande in die lug by ’n kuierplek in Pretoria. Foto: Deaan Viviers
’n Springbok-ondersteuner in Pretoria wag gespanne vir die eindfluitjie. Foto: Deaan Vivier
Terwyl die Springbokke alles in die stryd werp in Japan, swaai dié ondersteuner in Kaapstad die Bok-vlag so hoog as wat hy kan.Foto: Jaco Marais
Nog lank voor die afskop het Noleen Glascow ondersteuners soos Yumnah Mosaval van Mitchells Plain in Kaapstad se gesigte ingekleur. Foto: Jaco Marais
Vreugde en ’n groot omhelsing is die beloning in Pretoria ná 80 minute van bankvas agter die Bokke staan.Foto: Deaan Vivier