Suid-Afrika se grofgeskut en skerpskutters, tesame met die ervaring van uitkloprugby gee die oud-Bok-kaptein Fourie du Preez moed dat Wallis vandag in die Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd in Jokohama geklop sal word.

Du Preez is een van talle oud-Bokke wat homself vir ’n “lelike” oorwinning staal, met lugskoppe wat Wallis moet sink. Min wysigings aan die Bokke se manier van speel word verwag, al glo sommige kenners dit sal Rassie Erasmus loon om effe meer te waag.

Die breintrust moet wel eerstens verseker die Bokke oorheers voorlangs en in die regte gebiede van die veld.

“Dis belangrik dat Lood de Jager, Duane Vermeulen, Faf de Klerk en Handré Pollard beheer vat. Ek het volle vertroue dat hulle sal,” sê Du Preez.

“Wallis en ons speel baie dieselfde en hulle het ons die laaste paar keer gewen, maar ons het nooit met ons sterkste span gespeel nie. Ons is Sondag ’n totaal ander span as die laaste paar keer. Meer as die helfte van die span wat vandag speel, het vier jaar terug teen Wallis gespeel.”

Die Bokke het Wallis in 2015 in ’n WB-kwarteindstryd op Twickenham met 23-19 geklop, met Du Preez wat die kaptein was.

Hy glo kritiek op die feit dat die skrumskakel, Faf de Klerk, so baie skop is oordrewe, maar stem saam dat De Klerk se skopwerk kan verbeter. Hy sê die skrumskakel speel andersins puik.

“Die plan is heeltemal reg, maar die uitvoering is swak.”

“Daar is ’n rede dat ons wedstryde wen en hy is eintlik baie goed. Dit is nie sy skuld dat hy moet skop nie, dit is die plan en daar is nie juis ’n alternatief nie.”

Du Preez het vier jaar terug die beslissende drie in die kwarteindstryd teen Wallis gedruk ná ’n droom-aangee deur Vermeulen. Pollard het die ander 18 punte met vyf strafdoele en ’n skepdoel aangeteken.

Pollard, Vermeulen, Beast Mtawarira, Frans Malherbe, Eben Etzebeth, De Jager, Damian de Allende en Willie le Roux was saam met Du Preez in die beginspan. Francois Louw sit vandag op die bank, maar ook hy was in die beginspan.

Nog ’n Bok, Pieter-Steph du Toit, was ’n plaasvervanger in 2015 se kwarteindstryd.

“Die ervaring en ondervinding van 2015 tel in ons guns,” sê Du Preez. Hy glo al speel die twee spanne dieselfde soort wedstryd, is die Bok-pak beter.

“Die bedreiging is definitief hul opskietverdediging. Dit gaan ’n vervelige stryd wees, maar ons moet net seker maak dat ons die een of twee geleenthede wat ons kry, afrond. Spanne sukkel in die laaste tyd teen die Bokke, dis moeilik om teen ons te speel.

“In dieselfde asem – Japan was een van die vier beste spanne by die WB en ons het die tweede helfte maklik gewen. Mense moet ’n bietjie perspektief hê.

“Ons span is op ’n goeie plek en ons het ’n goeie geleentheid om die WB te wen.”

Ons ervaar positiewe energie uit Suid-Afrika. Ons weet ons speel vir Suid-Afrika en dit is groter as net 80 minute se rugby.

Gareth Davies en Dan Biggar se tweestryd met die Bokke se De Klerk en Pollard sal vandag ’n sleutelaspek van die toets wees.

Veral omdat skopwerk net so ’n belangrike deel van Wallis se wedstrydplan is. Ook Davies-hulle probeer om met skopwerk en goeie verdediging teenstanders in hul eie halfgebied vas te pen en daar tot foute te dwing.

Die verskil tussen die spanne se skopwerk is dat De Klerk sover die meeste van die Bokke s’n doen, terwyl Biggar van losskakel af met die skopskoen vir Wallis moet aanval.

Dit sal dus interessant wees of die Bokke as afwisseling fyn verstellings aan hul skopplan maak deur Pollard vandag meer in besit te stel as wat tot dusver in die toernooi die geval was.

Indien wel, kan dit beteken dat die Bokke met Pollard en Le Roux eerder diep na die hoeke sal skop as om Wallis, wat bekend vir hulle goeie lugspel is, net met hoë balle te peper.

Erasmus voel die Bokke het 18 maande gewerk om hulself in ’n posisie te plaas om die WB te wen.

“Die spelers het met ongelooflike energie geoefen om Bok-rugby weer in dié posisie te plaas en ek weet hulle sal vandag alles op die veld gee,” sê Erasmus.

“Ons ervaar positiewe energie uit Suid-Afrika. Ons weet ons speel vir Suid-Afrika en dit is groter as net 80 minute se rugby.

“Ons verwag om, en wil, al die pad gaan om die WB te probeer wen.”

Die Bok-kaptein, Siya Kolisi, het op gister se mediakonferensie gesê hy weet wat die verowering van die Wêreldbeker vir die land kan beteken.

“Ek was oud genoeg (16) om 2007 se WB te onthou en wat dit vir die land beteken het.”

Spanne:

Springbokke: Willie le Roux, S’bu Nkosi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Lood de Jager, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn.

Wallis: Leigh Halfpenny, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Dan Biggar, Gareth Davies, Ross Moriarty, Justin Tipuric, Aaron Wainwright, Alun Wyn Jones, Jake Ball, Tomas Francis, Ken Owens, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Rhys Carre, Dillon Lewis, Adam Beard, Aaron Shingler, Tomos Williams, Rhys Patchell, Owen Watkin.

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk). Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes (Engeland) en Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland). TV-skeidsregter: Ben Skeen (Nieu-Seeland).

Afskop: 11:00.

Suid-Afrika kan wen as ...
André Venter glo as die Springbokke op hul beste speel, hul wedstrydplan afdwing en dit foutloos uitvoer, kan hulle Wallis met 15 punte klop. 

“Maar ek sal ’n oorwinning met een punt ook vat!” skerts dié voormalige Springbok-flank. 

Hy hoop Handré Pollard slaag met minstens 90% van sy skoppe en glo ook daar sal steeds gereeld uit die hand geskop word.

“Hopelik wen hulle die skoppe terug. Daar is nie fout met die wedstrydplan nie.

“Ek glo as die Bokke speel soos wat hulle kan, sal hulle geleenthede skep om met 15 punte te wen.”

Hy glo wel die blaser, Jérôme Garcès, kan ’n groot impak op die wedstryd hê. 

“Ons het gesien hoe ’n kaart ’n wedstryd kan swaai.”