Die All Blacks het Saterdag in Jokohama byna verseker dat hulle later bo-aan die puntelys van Groep B sal eindig deur die Springbokke 23-13 in die International-stadion te klop. Hier is vyf van die belangrikste besprekingspunte ná dié toets.

Steyn dalk antwoord vir lugspel

Een van die grootste lesse wat die Bokke in Jokohama geleer het, is hoe belangrik lugspel in die humiditeit is. Spanne sal lugspel in die groepfase as ’n wyse van aanval beskou totdat speeltoestande waarskynlik in die uitkloprondes verbeter en die bal nie meer so glibberig is nie.

Frans Steyn kan die Bokke se antwoord in die lug wees. Foto: Gallo Images

Ongelukkig het Suid-Afrika die lugspel-toets teen die Kiwi’s gedop en te veel foute begaan.

Miskien moet Cheslin Kolbe sy spanmaats die week op die oefenveld wys hoe dit gedoen word. Hy het die tegniek duidelik onder die knie danksy sy spel vir Toulouse in die Franse Top14-reeks.

Hy was net so goed in die lug as op die aanval en die Bokke se voorste speler in Jokohama.

Die enigste werklike wyse hoe die Bokke se lugspel, veral vir hulle ander belangrike groepwedstryd later teen Italië, verbeter kan word, is om Frans Steyn te betrek.

Dis waar dat Willie le Roux (1,86 m en 90 kg) ’n span ’n ander skop-opsie met sy linkervoet bied as hy soms van tweede- of derdefase-besit op losskakel staan, maar Steyn (1,91 m en 110 kg) kan op heelagter waarde toevoeg.

Steyn het net so ’n goeie skopvoet soos Le Roux, indien nie beter nie. Hy is ’n sterker verdediger en sy aanvallende vermoë is welbekend. Die Bok-bestuurspan mag Steyn dalk as ’n opsie vorentoe oorweeg.

Aanpasbaarheid bemoedigend

Met die rustydtelling op 17-3 het dinge nie goed vir die Bokke gelyk nie. Die All Blacks het die kode vir hul opskietverdediging deur Richie Mo’unga se voetaangeë na sy vleuels ontsyfer en ’n mens het gevrees dat die damwal in die tweede helfte sal bars.

Die wyse waarop die Bokke in die tweede helfte nie net teruggeveg het nie, maar aangepas het, wat onder meer hul verdedigingstelsel betref, sal die Suid-Afrikaanse kamp baie vertroue vir die res van die toernooi gee.

Volgens Steven Kitshoff, wat een van die Bokke se voorste baldraers teen Nieu-Seeland was, het daar rustyd geen harde woorde in die kleedkamer geval nie.

“Ons het net (rustyd) probeer om oplossing te vind vir hul planne teen ons,” het Kitshoff gesê.

“Ons het net by ons strukture en wedstrydplan gehou. Ons wou (in die tweede helfte) ons uitvoering regstel, aanhou veg en aan ons plan werk.”

Die oplossings het volgens Kitshoff vinnig ná rustyd gevolg.

“Dit was ’n moeilike aand daarbuite. Hulle het met ’n besliste plan gekom om ons vaste fasette te ontwrig. Ons sal vorentoe vinniger moet aanpas.

“Ek het werklik tot in die laaste minute gevoel ons kon die wedstryd nog wen. Nieu-Seeland was reg vir die toets. Elke botsing, wat duikslae en baldra betref, was fisiek en persoonlik.”

Bokke wen op papier

Suid-Afrika was papiertiere in Jokohama. Hulle het byna alle afdelings gewen, behalwe waar dit die meeste saakgemaak het – op die telbord.

Die Bokke het balbesit (53% teenoor die All Blacks se 47%) en gebiedsvoordeel (59% teenoor 41%) oorheers. Die All Blacks se 114 duikslae is meer as Suid-Afrika se 107.

Suid-Afrika het ’n slaagsyfer van 100% (9 uit 9) in die lynstane behaal, vergeleke met die Kiwi’s se 78% (5/7).

Wat veld gewen met die bal in die hand betref was die Bokke se 372 m meer as Nieu-Seeland se 367.

Die All Blacks se 35 skoppe was meer as Suid-Afrika se 26. Hulle het egter net vier strafskoppe teenoor die Bokke se nege afgestaan.

In die skrums het Nieu-Seeland wel die botoon gevoer met ’n 100%-syfer, met Suid-Afrika wat met 83% tevrede moes wees.

Du Toit is ’n masjien

Pieter-Steph du Toit is die Bokke se waardevolste voorspeler. Hy het dit weer Saterdag in Jokohama met sy hoë werkverrigting gewys.

Sy 13 duikslae was die meeste deur enige speler op die veld. Franco Mostert was kort op sy hakke met 11 duikslae. Joe Moody, Scott Barrett en Sam Cane het 10 duikslae elk ingekry gevolg deur Damian de Allende op nege.

Duane Vermeulen is die Bok wat die bal die meeste gedra het, 11 keer. De Allende met tien en Kolbe met nege was die ander Bokke wat goed in die afdeling gevaar het.

Kolbe se 118 m veld wat hy gewen het, was die meeste. Anton Lienert-Brown op 63, Sevu Reece op 59, Beauden Barrett met 56 en De Allende op 51 het ook in die afdeling uitgeblink.

Nederlaag nie treinongeluk

Steve Hansen het ná die toets die geldige opmerking gemaak dat die uitslag in Jokohama nie die Bokke se Wêreldbeker-veldtog ontspoor nie.

“As ons die toernooi wil wen, moet ons elke wedstryd wen,” het Hansen gesê.

“As Suid-Afrika die toernooi wil wen, moet hy al sy oorblywende wedstryde wen. Niemand is daarom in ’n beter posisie as die ander een nie.

“Geskiedenis is wonderlik, maar dit kan herskryf word.”