Frans Steyn stres baie meer voor Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama as voor 2007 s’n toe hy ’n langafstand-strafdoel in die Springbokke se oorwinning van 15-6 oor die Engelse in Parys behaal het.

In 2007 was hy op 20-jarige ouderdom die Bokke se jongste speler in hul Wêreldbeker-veldtog.

Saterdag in Jokohama is die veelsydige Steyn op 32-jarige ouderdom die vierde oudste speler in die Bokke se 23-tal. Francois Louw (34 jaar), Beast Mtawarira (34) en Duane Vermeulen (33) is ouer as hy.

Die eindstryd is Steyn se 67ste toets. Met ’n moontlike oorwinning sal hy hom in Os du Randt se geselskap bevind om die enigste Bokke te word om twee goue Wêreldbeker-medaljes te wen.

Du Randt het dit in 1995 en 2007 vermag.

Steyn se ervaring van Wêreldbekers is op en van die speelveld baie vir sy span in Japan werd. Hy is saam met Skotland se John Barclay die enigste speler wat by 2007, 2011 en 2019 se Wêreldbekers betrokke was, nadat hy op 11 November 2006 in Dublin as ’n 19-jarige speler sy toetsbuiging teen Ierland gemaak het en ’n drie behaal het.

Toe Steyn die week gevra is of hy gereed is om met ’n monster-skepdoel of -strafdoel ’n moontlike oorwinning oor Engeland te beklink, het hy geantwoord: “Toe ek jonger was, het ek my nie veel daaraan gesteur nie.

“Ek weet nie of ek hoop dit gebeur nie (dat hy die beslissende skop moet waarneem), omdat ek deesdae meer daaroor stres.

“Maar Handré Pollard kan goed skop en ook hy skop die bal ’n myl ver. Ek is net daar om te ondersteun. As hulle my benodig op die veld, is ek daar en sal my beste doen.”

Iets wat opmerklik voor oefeninge en voor die afskoptyd van die Bokke se wedstryde hier in Japan is, is die aantal skepdoele wat Steyn oefen. Hy neem hulle meestal van die middellyn en sy eie span se tientreëlyn waar en behaal goeie sukses daarmee.

Van die kant af lyk dit of hy vir daardie groot oomblik voorberei.

“Ek het nie die week probeer om my spanmaats kalm te hou of enigiets van daardie aard nie. Ek het net grappe gemaak en probeer om myself te wees en nie te veel te stres nie. Maar ek dink almal is voorbereid.

“Die vorige keer (2007 se eindstryd) was beslis nie so ernstig vir my nie. Ek was jonger en het altyd gedink daar sal weer ’n kans wees.

“Nou is dit vir my ’n bietjie ernstiger. Ek weet daar sal nie weer ’n ander geleentheid vir ons wees nie. Dit gebeur nie gereeld dat jy in ’n eindstryd speel nie, ons moet dit laat tel.”

Engeland is ’n baie goeie span na Steyn se mening. Hy het lanklaas teen hulle gespeel en beskou dit op ’n persoonlike noot as ’n uitdaging.

“Ek kan onthou dat 2007 se eindstryd ’n taai affêre was. Baie mense sê steeds Mark Cueto se drie was een en wat ook al.

“Maar ons moet net wen. Ons hoef nie tien drieë of iets te druk nie. As ons met 3-0 wen, neem ons steeds die Wêreldbeker terug Suid-Afrika toe.”

Die Bok-kamp is bewus van die goeie ondersteuning wat hy vanuit Suid-Afrika kry, maar besef volgens Steyn nog nie die ware omvang daarvan nie. Uiteraard wil die Bokke die Wêreldbeker vir Suid-Afrika en hul ondersteuners wen.

“Ons is nou in Japan en voel nie werklik die vibe van die mense in Suid-Afrika nie.

“Die belangrikste vir ons bly steeds om ’n goeie vertoning in die eindstryd te lewer, om binne ons strukture en die prosesse te bly wat Rassie (Erasmus) vir ons vir goeie vertonings uiteengesit het.

“As ons wen, is die manne in vir ’n groot skok wanneer ons na Suid-Afrika terugkeer.”