’n Groot prestasie wag op Wallis se slot Alun Wyn Jones wanneer hy sy span Sondag teen Frankryk in die Wêreldbeker-kwarteindronde op die veld lei – maar daar is ook ’n kans dat dit ’n tranedal kan wees.

Die 34-jarige Jones sal in sy 141ste toets speel, wat hom saam met die legendariese Ierse senter Brian O’Driscoll in die derde plek van spelers met meeste toetse sal plaas.

Die verwagting is dat die Rooi Drake te sterk gaan wees vir die Hane, maar almal weet ook dat Frankryk op sy dag enige span kan klop.

“Dit is die een kans wat ons het om te bly (in die toernooi), want anders gaan hy huis toe. Dit is snaaks, want die beplanning vir die toernooi is seker iets waarvoor Warren (Gatland, afrigter van Wallis) al tien jaar dink.

“Hy is altyd besig om te bou en wat ons tot dusver bereik het of nie, word alles nou op die spits gedryf,” sê Jones in ’n verklaring op die Walliese Rugbyunie se webtuiste.

Warren Gatland, afrigter van die Rooi Drake. Foto: Getty Images

Gatland rig reeds sedert 2007 die Rooi Drake af en lê ná afloop van die skouspel in Japan die leisels in.

“Dit is net nog ’n rugbywedstryd, maar ons weet hoe belangrik dit is. Ons is daarop gefokus om uit te gaan (op die veld), sodat ons in die toernooi kan bly.

“Die spelers is oorgehaal en het selfvertroue. Ons het nog nie vir 80 minute in die toernooi gespeel nie. Enigiets kan in internasionale rugby gebeur, maar as jy goed genoeg is, dan wen jy wedstryde,” sê Gatland.

Hy het die goeie nuus gekry dat die senter Jonathan Davies, die vleuel George North en die losskakel Dan Biggar fiks verklaar is. Daar was veral onsekerheid oor Davies se beskikbaarheid nadat hy ’n kniebesering in die groepwedstryd teen Fidji opgedoen het.

Om sake te vererger was daar ook onsekerheid oor die beskikbaarheid van Davies se sentermaat, Hadleigh Parkes, wat met ’n gebreekte vinger speel en sy skouer teen Uruguay beseer het.

Maar almal het betyds hul skete en kwale afgeskud.

“As ’n groep is ons baie gelukkig. Daar is steeds ’n paar seer lywe, maar almal is fiks.

“Jonathan het deelgeneem aan Woensdag se sessie. Ons het Hadleigh nie Woensdag laat oefen nie, maar hulle albei is fiks vir Sondag se wedstryd,” sê Gatland.

Bernard le Roux sak Sondag op slot. Foto: Getty Images

Die Rooi Drake se lostrio teen die Hane sal bestaan uit Aaron Wainwright, Justin Tipuric en Josh Navidi, terwyl Ross Moriarty die plaasvervangersbank sal warm hou.

Ook in die Franse kamp, wat slegs een van sy laaste agt ontmoetings teen die Rooi Drake kon wen, was daar onsekerheid oor ’n paar spelers se beskikbaarheid weens beserings.

Die skrumskakel Antoine Dupont (rugbesering) en die vleuel Damian Penaud (maagbesering) is egter fiks verklaar.

Bernard le Roux, wat in Suid-Afrika gebore is, is Sebastien Vahaamahina se slotmaat.

Die heelagter Maxime Medard is die enigste Franse speler wat deel van die Hane se span was wat Wallis in 2011 in die halfeind van die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland verslaan het, wat Sondag sal uitdraf. – Sportredaksie, Reuters

Wallis: Liam Williams, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Dan Biggar, Gareth Davies, Josh Navidi, Justin Tipuric, Aaron Wainwright, Alun Wyn Jones (k), Jake Ball, Tomas Francis, Ken Owens, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Rhys Carre, Dillon Lewis, Aaron Shingler, Ross Moriarty, Tomos Williams, Rhys Patchell, Owen Watkin.

Frankryk: Maxime Medard, Damian Penaud, Virimi Vakatawa, Gael Fickou, Yoann Huget, Romain Ntamack, Antoine Dupont, Gregory Alldritt, Charles Ollivon, Wenceslas Lauret, Sebastien Vahaamahina, Bernard le Roux, Rabah Slimani, Guilhem Guirado (k), Jefferson Poirot. PLAASVERVANGERS: Camille Chat, Cyril Baille, Emerick Setiano, Paul Gabrillagues, Louis Picamoles, Baptiste Serin, Camille Lopez, Vincent Rattez.

Skeidsregter: Jaco Peyper (SA).

Assistent-skeidsregters: Nic Berry (Aus) en Paul Williams (NS).

TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).

Afskop: 09:15.

WB-rekord as teenstanders: In die enkele WB-wedstryd teen mekaar – in die halfeindronde in 2011 – het Frankryk met 9-8 gewen.

Laaste kragmeting: Wallis het Frankryk vanjaar in die Sesnasies-reeks met 24-19 geklop.

Verwagte weer: Gedeeltelik bewolk, met ’n verwagte maksimum temperatuur van 23 grade Celsius.