Frankryk se ondersteuners sal hierdie Wêreldbekertoernooi hul hartpilletjies naby moet hou.

Dis een ding wat duidelik was Saterdag toe die Hane net-net met 23-21 in hul Groep C-wedstryd teen Argentinië in die Tokio-stadion in Tjofoe gewen het.

Halftyd was die Franse met 17-3 voor, maar toe het die Poemas met ’n groot aanslag vorendag gekom en so byna die wa deur die drif getrek.

’n Minuut voor die einde het die Poemas se heelagter, Emiliano Boffelli, met ’n lang strafdoelpoging misluk wat sy span kon laat wen het.

In die eerste helfte het die Franse met ’n paar pragtige stukkies spel vorendag gekom.

Hul haastige regtervleuel, Damian Penaud, het al twee sy span se drieë in dié skof met sterk lopies aangevoer.

Die senter Gael Fickou en die skrumskakel Antoine Dumont het onderskeidelik in die 19de en 22ste minute van die eerste helfte gedruk.

Maar selfs in die eerste helfte het die Franse al begin om baie strafskoppe af te staan en soms met uiters slordige spel vorendag gekom.

Die Argentynse slot Guido Petti het ’n paar sterk lopies ingekry.Foto: Getty Images

In die tweede helfte het die Poemas met twee drieë uit dryfspel vanuit lynstane geantwoord.

Met 12 minute oor was die telling 21-20 vir die Argentyne, maar toe skop die plaasvervanger-senter Camille Lopez ’n skepdoel oor en die Franse was weer met 23-21 voor en dis hoe die telling gebly het.

Boffelli het wel sy kans gehad om die wenpunte vir die Poemas te kry twee minute voor die einde.

Fickou het die einste Boffelli in die lug geloop en dis toe dat Boffelli, ná behandeling, onsuksesvol pale toe gemik het.

Fickou was altyd gevaarlik op die aanval en is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

As die Poemas gewen het, sou die slot Guido Petti sekerlik die Speler van die Wedstryd gewees het.

Hy was eenvoudig skitterend in die lynstane en ook met sy stormlope.

Mario Ledesma, die afrigter van die Poemas, was agterna openlik krities oor die skeidsregter, Angus Gardner, se vertoning met die fluitjie. – Sportredaksie

Puntemakers: Frankryk 23 (20): Drieë: Gael Fickou, Antoine Dupont. Doelskoppe: Romain Ntamack (2). Strafdoele: Ntamack (2), Camille Lopez.

Argentinië 21 (3): Drieë: Guido Petti, Julian Montoya. Doelskop: Nicolas Sanchez. Strafdoele: Sanchez, Benjamin Urdapilleta (2).