Franco Mostert sal angstig wag op wie die Springbokke se teenstander in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi is en wat Rassie Erasmus,Bok-afrigter, se taktiek ten opsigte van sy verhouding tussen voor- en agterspelers op die bank is.

Want ná RG Snyman se Speler van die Wedstryd-vertoning in die sege van 66-7 oor Kanada in Kobe, kan Mostert sy plek in die Bokke se 23-tal vir die kwarteindstryd kwyt wees.

Hy kan in die uitkloprondes die eerste keer vanjaar nie die 23-tal van Suid-Afrika se sogenaamde A-span haal nie.

Dit het ironies niks met swak spelpeil te doen nie, maar dis eerder ’n geval dat Lood de Jager en Snyman hulself uit hul tokse in Japan speel.

Alles is wel nog nie verlore vir Mostert nie, al het Erasmus sover in drie van die Bokke se vier groepwedstryde vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank gekies.

Maar dit sal Mostert hoop gee dat sy afrigter vanweë die krag van Italië se agttal besluit het om ses voorspelers, waarvan hy deel was, en net twee agterspelers teen die Azzurri te kies.

Die 28-jarige Mostert het as die Bokke se eerstekeuse-vyfslot na die Wêreldbeker gereis. Ongelukkig vir hom het die 26-jarige De Jager weer sy spelpeil van 2015 se Wêreldbeker herwin en is hy die Bokke se beste lynstaanopsie.

De Jager word ná sy goeie vertonings teen Namibië en Italië saam met Eben Etzebeth as die Bokke se eerstekeuse-slotpaar beskou.

Mostert het sy kant teen Kanada gebring, maar nie genoeg gedoen om De Jager te onttroon nie.

Mostert se beste kans om in die kwarteindstryd te speel, is dus met ’n plek op die bank.

Besluit Erasmus egter op ’n bank van vyf voorspelers en drie agterspelers, sal Mostert oor die hoof gesien word, aangesien die 24-jarige Snyman groter impak van die bank maak.

Dis wel nie onmoontlik dat Erasmus op ’n bank van ses voorspelers kan besluit as Ierland die Bokke se teenstander in die kwarteindstryd is nie. Die Iere het ’n baie sterk agttal.

Die vier Bok-slotte in die WB-toernooi: Eben Etzebeth, RG Snyman, Lood De Jager en Franco Mostert. Foto: Getty Images

Teen Japan en Skotland, die twee ander spanne waarteen die Bokke in die kwarteindstryd te staan kan kom, is die kans groter dat Erasmus met die tradisionele verhouding van vyf voorspelers en drie agterspelers sal volhard.

Die Bok-afrigter het nog nie oor sy planne gepraat nie en wil eers die teenstanders die week ontleed voordat hy aan spankeuses dink.

Snyman is nietemin weekliks in die Wêreldbeker besig om aan die hoë verwagtinge wat van hom gekoester word te voldoen.

Waar hy tot onlangs nog net blertse van sy individuele briljant gewys het, is hy besig om dit weekliks bestendig in die Wêreldbeker te doen.

Uit al die Bok-slotte op toer, het hy vanweë sy atletiese bou en goeie hande in kontak die grootste X-faktor.

Met sy vertoning teen Kanada maak hy dit vir Erasmus onmoontlik om hom nie vir die kwarteindstryd te kies nie.

“Dit was vet pret om Dinsdagaand daarbuite te wees,” het Snyman ná die wedstryd teen Kanada gesê.

Hy het geterg dat hy nog so vars ná 80 minute se rugby voel, dat hy wou gaan fietsry.

“Ek sit deur die week harde werk in aan my aangeewerk in kontaksituasies. Dis iets wat ek voortdurend probeer verbeter.

“Om die bal net in een hand vas te hou, is maar ’n natuurlike ding.

“Ek dink dit help soms om die bal weg te kry, maar jy loop ook die gevaar om hom te verloor.”

Snyman meen die Bokke het ’n goeie spanvertoning teen Kanada gelewer met speeltoestande wat moeiliker onder die toedak was as wat sigbaar was, maar dat daar heelwat werk voor die kwarteindstryd wag.

“Ons kon byvoorbeeld nie ons dryfmaalbewegings aan die gang kry nie, hulle het ons goed daar verdedig.”

Terwyl Snyman gemaklik oor sy speelkans in die kwarteindstryd sal voel, moet Mostert tot volgende Woensdag naels kou. Erasmus het sover in die Wêreldbeker sy spanne op ’n Woensdag aangekondig.