Die Springbokke het Maandag ’n rusdag gehad ná hul oorwinning oor Japan in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi, maar Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, het heelwat dinkwerk gehad om te doen.

Willie le Roux se spelpeil op heelagter is veral ’n bekommernis voor Sondag se halfeindstryd teen Wallis in Jokohama.

Erasmus moet besluit of hy met Le Roux gaan volhard in die hoop dat hy homself sal regruk en of hy eerder iemand soos Frans Steyn, Damian Willemse of Warrick Gelant op heelagter moet oorweeg.

Die Bok-afrigter moet ook besluit of hy met ’n bank van ses voorspelers en twee agterspelers gaan volhard en of hy dalk eerder ’n veelsydige speler soos Willemse as ’n versekeringspolis vir Le Roux moet kies, sou hy besluit om wel met laasgenoemde te volhard.

As ’n mens sulke aanskoulike en mooi rugby soos Japan speel, moet jy êrens iets opoffer.

Le Roux was nog nie op sy snykant in die Wêreldbeker nie en speel sonder enige selfvertroue.

Erasmus moet opweeg of sy tydsberekening aan die vooraand van die halfeindronde reg is om Le Roux nou te pos én of Willemse en Gelant wedstrydskerp genoeg is om in die beginspan in te stap.

Nog ’n besluit waaroor Erasmus sal dink, is of hy dié keer met Steven Kitshoff en Malcolm Marx moet begin, met Beast Mtawarira en Bongi Mbonambi wat dan op die bank sal sit.

Hy het hulle die afgelope jaar verskeie kere afhangende van die teenstander geroteer.

Waaroor Erasmus hom wel nie bekommer nie, is die Bokke se keerwerk.

“Ek weet baie mense sien gate in ons verdediging, maar ons vertrou ons verdedigingstelsel,” het Erasmus gesê nadat sy span die gasheernasie met 26-3 in Tokio geklop het.

“Ek dink Japan se spel was ’n goeie toets vir ons met die oog op die halfeindstryd.

“Ons het sover nog net drie drieë in die Wêreldbeker afgestaan, waarvan twee in die tydperk van vier minute teen die All Blacks was.

Ons weet verdediging is baie belangrik as jy die Wêreldbeker wil wen. Ons het goeie vertroue in ons verdediging.

“Dit het nog nie gebeur dat ons verdediging gevou het nadat ons vir lang tye onder druk was nie.

“Ons weet verdediging is baie belangrik as jy die Wêreldbeker wil wen. Ons het goeie vertroue in ons verdediging.”

Hy was terselfdertyd vol lof vir Japan se temporugby en uitstaande balvaardighede.

“Ons was werklik onder baie druk Sondag, veral oor die tempo van die toets. Die toets is regtig teen ’n hoë intensiteit gespeel, so dit was goed dat baie spelers daaraan gewoond kon raak.

“Wallis het dieselfde ervaring in hul kwarteindstryd teen Frankryk gehad; die halfeindstryd sal daarom ’n goeie toets wees.”

FUCHU, JAPAN - OCTOBER 16: Rassie Erasmus, Head Co
Rassie Erasmus. Foto: Getty Images

Wallis sal die Bokke ander uitdagings as Japan bied, veral wat die vaste fasette betref. Wallis se vaste fasette is baie beter as Japan s’n.

“As ’n mens sulke aanskoulike en mooi rugby soos Japan speel, moet jy êrens iets opoffer,” het Erasmus sy denkrigting vir sy wedstrydplan vir die kwarteindstryd verduidelik.

“As jy byvoorbeeld soveel ouens het wat die bal so goed kan hanteer, gaan jy waarskynlik iets met jou skrumwerk of lynstane opoffer en sukkel om dryfmaalbewegings te stuit.

“Dít is waar ons Japan aangeval het. Ek dink nie ons lynstane en skrums gaan so maklik teen Wallis wees nie.

“Ons vaste fasette was goed teen Japan gewees en ons is tevrede daarmee, maar ons besef hulle is nie ’n land wat werklik baie aandag daaraan bestee nie.”

Michael Leitch, kaptein en agtsteman van Japan, het ook die Bokke se vaste fasette as die verskil tussen wen en verloor in die kwarteindstryd uitgesonder.