Die ervare Leigh Halfpenny bevind hom op die plaasvervangersbank vir Wallis se kragmeting Maandag teen Georgia by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Toyota.

Warren Gatland, afrigter van die Walliesers, het waarskynlik sy sterkste beskikbare span gekies, met Liam Williams wat met die nr. 15-trui toevertrou word.

Die 28-jarige Williams is darem self nie ’n groentjie nie en spog immers met 58 toetse agter sy naam vir Wallis.

Die span se kaptein, die slot Alun Wyn Jones, speel in sy 129ste toets, waarmee hy Gethin Jenkins se rekord vir Wallis ewenaar. Sy slotmaat is Jake Ball, met Aaron Wainwright, Justin Tipuric en Josh Navidi die lostrio.

Ross Moriarty kan homself waarskynlik ongelukkig ag dat daar nie plek in die lostrio vir hom gevind kon word nie.

Agterlangs sal Dan Biggar die generaal op losskakel wees, met die gevestigde senterpaar van Hadleigh Parkes en Jonathan Davies aan sy buitekant.

Die enigste keer wat Georgia en Wallis tevore kragte gemeet het, was in 2017 toe Gatland se troepe met 13-6 baas was.

* Wallis: Liam Williams, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Dan Biggar, Gareth Davies, Josh Navidi, Justin Tipuric, Aaron Wainwright, Alun Wyn Jones (k), Jake Ball, Tomas Francis, Ken Owens, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Nicky Smith, Dillon Lewis, Aaron Shingler, Josh Navidi, Tomos Williams, Rhys Patchell, Leigh Halfpenny. – Sportredaksie