Warren Gatland, afrigter van Wallis, kan dit nie kleinkry dat sy span as die buiteperd beskou word vir Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen die Springbokke in Jokohama nie.

Dit is nie verbasend dat die 56-jarige Gatland stomgeslaan is nie, aangesien die Rooi Drake hul laaste vier kragmetings met Suid-Afrika gewen het. Die Bokke kon laas in die kwarteindronde van 2015 se Wêreldbeker-toernooi met die Walliesers afreken.

Maar talle kenners is dit eens dat die Suid-Afrikaners Sondag doodeenvoudig te sterk gaan wees, omdat hulle oor groter diepte beskik.

“Die lekker ding daarvan om hier te wees, is dat jy soort van in ’n borrel is. Jy beleef nie so baie van die dinge daarbuite nie,” het Gatland oor berigte in die media gesê.

“Dit sal briljant wees as hulle (die media) kan voortgaan om dit oor die volgende paar dae te doen. Asseblief, hou aan daarmee, want dit motiveer ons wanneer mense ons afskryf.

Ek kan nie verstaan dat mense ons afskryf ten spyte van ons goeie rekord die afgelope vier of vyf jaar teen Suid-Afrika nie. (Ons rekord) spreek vir homself.
Warren Gatland

“Ek kan nie verstaan dat mense ons afskryf ten spyte van ons goeie rekord die afgelope vier of vyf jaar teen Suid-Afrika nie. (Ons rekord) spreek vir homself.”

Gatland sê hy verwag dat Sondag se kragmeting ’n uiters gelykop affêre sal wees.

“Ons het gesien in die eerste helfte van die wedstryd tussen Suid-Afrika en Japan dat dit ’n klipharde stryd was.

“Dit gaan waarskynlik ’n skopfees wees – hulle (die Bokke) het 30 keer teen Japan geskop, so ons sal reg moet wees om hul wedstrydplan te hanteer.

KUMAMOTO, JAPAN - OCTOBER 13: Wales players line u
Wallis se Rooi Drake gaan gewis nie 'n maklike teenstander vir die Bokke wees nie. (Foto: Getty Images)

“Dit gaan nie die mooiste wedstryd in die wêreld wees nie – dit sal ’n harde toets wees met spanne wat waarskynlik sal speel vir gebiedsvoordeel.

“Afhangende van hoe die weer is, sal jy die bal baie in die lug sien (met skoppe).”

Hoewel die Rooi Drake die laaste jare die oorhand oor die Springbokke het, is hul algehele rekord teen Suid-Afrika maar aan die droewige kant.

Die twee spanne het die eerste keer in 1906 teen mekaar gespeel en was sedertdien 35 keer slaags. Daarvan het Suid-Afrika 28 keer gewen, Wallis ses keer, terwyl een wedstryd, in 1970 in Cardiff, ’n gelykopuitslag opgelewer het.

Die wenner van Sondag se kragmeting kom aanstaande week in die eindstryd teen Engeland of Nieu-Seeland, wat in die ander halfeind slaags is, te staan. – Reuters