Die Suid-Afrikaanse Wêreldbekerwenner Handré Pollard sal die Bokke se trofee-parade weens ’n gebreekte wangbeen misloop.

SA Rugby Magazine het Donderdag ’n foto van die Bok-losskakel in die hospitaal op sy Facebook-blad gedeel en die nuus bevestig.

Pollard het die besering in die Bokke se oorwinning met 32-12 teen Engeland in Jokohama opgedoen.

"Nie heeltemal die trofee-parade wat ek in gedagte gehad het nie. Ek sal hierdie 1 000 keer oor doen om Bill (die WB-trofee) weer vas te hou," sê hy.

Die Bokke sal vandeesweek in van Suid-Afrika se hoofstede te sien wees wanneer hulle deur die strate gaan ry en die Wêreldbeker vertoon.

Die span sal Donderdag in Pretoria, Johannesburg en in Soweto wees, waarna hulle Vrydag in Durban sal kuier. Hulle is Saterdag in Oos-Londen en Sondag in Port Elizabeth en sluit die toer Maandag in Kaapstad af.

– Sportredaksie