Ierland het verlede maand in Japan aangekom as een van die min spanne wat die All Blacks in die Wêreldbeker (WB)-toernooi as wêreldkampioen kan onttroon.

Joe Schmidt, Ierland se afrigter, groet as ’n ‘gebroke man’. Foto: Getty Images

Hoewel die Iere nog nooit in die geskiedenis van die toernooi verder as die kwarteindronde kon vorder nie, is dit ’n span wat minder as ’n jaar gelede as die voorste span in wêreldrugby gereken is.

Dit was egter Saterdag in Tokio teen die All Blacks duidelik die span van Joe Schmidt is ’n seisoen verby sy beste toe hy met 46-14 slae gekry het in die kwarteindstryd.

Ierland het sedert 2017 altesame 23 uit 27 toetse gewen, wat ’n oorwinning van 16-9 oor Nieu-Seeland in November verlede jaar ingesluit het. Steve Hansen, die Kiwi’s se breier, het ná die nederlaag onomwonde verkondig die Iere is die WB-gunsteling.

Saterdag in die Tokio-stadion was Ierland skaars ’n skadu van dié gevierde span.

Engeland het Ierland in die opbou tot die toernooi met 57-15 geslag en Schmidt-hulle het daarna ’n verrassende nederlaag in die groepfase teen Japan gely.

Die Ierse afrigter kon nie Saterdag sy teleurstelling wegsteek nie.

“Ons sou wat wou gee om die topvier (die halfeindronde) te haal. Dit is die een ding wat ons nog altyd ontwyk het. My hart is gebreek en die spelers voel presies dieselfde,” sê Schmidt.

“Ná die November-toetse wou ons verseker dat dít ons doelwit is en dalk het ons te veel daarvan gemaak en ons fokus verloor.”

Schmidt se tydperk het met die teleurstellende vertoning tot ’n einde gekom en hy het agterna gesê hy is “gebroke”.

My hart is gebreek en die spelers voel presies dieselfde.
Joe Schmidt

Die Nieu-Seelander en die inspirerende Ierse-kaptein, Rory Best, hang sy stewels op.

Ierland het in die geheel ’n verouderde span. Die skakelpaar, Johnny Sexton en Conor Murray, is onderskeidelik 34 en 30 jaar oud, terwyl die buiteagterspelers Rob Kearney (33) en Keith Earls (32) ook waarskynlik nie nog ’n WB-toernooi sal sien nie.

Die veteraan-stut Cian Healy (32) en die losvoorspeler Peter O’Mahony (30) sal self sukkel om in 2023 nog vir Ierland in aanmerking te kom wanneer Frankryk gasheer is vir die volgende toernooi.

Die nuwe afrigter, Andy Farrell, sal die nuwe generasie rondom opkomende sterre soos James Ryan, Jacob Stockdale, Garry Ringrose en Robbie Henshaw moet bou.

Hansen het intussen groot lof vir sy kaptein, Kieran Read.

“Ek wil graag vir die ou grote hier langs my (by die mediakonferensie) erkenning gee. Hy het teruggekeer ná ’n rugbesering en het baie kritiek gekry van mense oor sy spelpeil, maar hy speel ál beter,” sê hy.

“En dit is nie net dit nie, hy lei die span uitstekend en nog meer so hier in die toernooi.”

Hansen sonder sy spelers se verdediging uit.

“Dit was yslik, of hoe? Verdediging is 50% van die spel en waarskynlik 90% as jy die sielkundige waarde daarvan byreken.” – Reuters