Geen Engels nie, nie eens vloekwoorde nie, word Saterdag tydens die eindstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in ’n kuierplek in Harmony in Virginia in die Vrystaat toegelaat nie.

Dié stel tong-in-die-kies-reëls is Vrydag op die Pig ’n Whistle Pub & Grill se Facebook-blad geplaas, en sal vir Saterdag geld:

1. Daar sal GEEN Engels gepraat word nie!! Nie eens vloek in Engels nie!!

2. Jy mag nie “moenie die f*kken bal skop” skree nie!!

3. As Faf per ongeluk die bal skop, moet die dames ’n shooter drink!

4. As Willie per ongeluk die bal raak vang, moet die mans 2 shooters drink!

5. Jy mag net groen-en-goud dra, anders moet jy huis toe gaan!

6. As die onmoontlike gebeur en Engeland wen dalk, dan ry almal net . . . geen op-die-skouer-gehuil of groet of niks nie . . . F*kken ry net!

Johan Pieterse, eienaar van die kroeg, sê hy is slaggereed vir Saterdag se eindstryd. Daar sal ook ’n springkasteel vir die kinders wees.

Jy mag nie “moenie die f*kken bal skop” skree nie!!

Rugbyondersteuners sal ook hul gesigte kan verf en hy het gesorg dat daar genoeg drank, braaivleis, droëwors en biltong sal wees.

“Mense kan ook vooraf raai wat die telling gaan wees en die wenner sal ’n bottel vonkelwyn kry,” sê Pieterse.

Hy voorspel die Bokke gaan met 21-13 wen.

Dan Kriek, president van Agri SA, gaan die eindstryd op sy plaas buite Tweeling kyk.

Kriek sê die Springbokke gaan 23-19 wen.

Die Griffons-rugbyspan se afrigter, Jacques Juries, sê hy gaan die eindstryd saam met die unie se afrigters van die o.21-span kyk.

“Ons gaan by die hulpafrigter Roean Bezuidenhout se huis kyk, want hy het die grootste skerm,” sê Juries.

Juries sê hy glo die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, se wedstrydplan is meer geskik vir ’n eindstryd as dié van die Engelse.

“Dit gaan baie naby wees, maar ek hoop die Bokke gaan met ’n punt of twee wen,” sê hy.