Wêreldrugby het Georgië om verskoning gevra nadat ’n Russiese lied Sondag gespeel is ná hul sege met 33-7 oor Uruguay in die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Hul afrigter en kaptein het hierdie omstrede verwikkeling op die nuuskonferensie onder die loep gebring.

“Ek wil van hierdie oomblik gebruik maak om die persoon wat Russiese musiek gespeel het, te vra om dit asseblief nie weer te doen nie,” het Jaba Bregvadze, Georgië se kaptein, gesê ná hul kragmeting in Groep D in Koemagaja.

Milton Haig, Georgië se afrigter, het verduidelik dat almal in die kamp baie ontsteld was daaroor.

“Hulle het ’n Russiese lied gespeel ná die wedstryd. Dit is gesing deur ’n sanger van Georgië, maar dit was ’n Russiese lied. Ons wil dit duidelik maak dat Rusland nie deel van Georgië is nie en dat Georgië nie deel van Rusland is nie,” het die 55-jarige Haig gesê.

“Ons het ’n verskillende taal, verskillende kultuur, alles is anders en maak asseblief seker daardie fout word nie weer gemaak nie,” het hy gesê terwyl hy omtrent gebewe het so kwaad was hy.

’n Woordvoerder van Wêreldrugby sê die beheerliggaam is baie jammer vir die verleentheid en woede wat dit by Georgië ontketen het.

“ ’n Opregte verskoning aan ons dierbare vriende van Georgië vir enige verleentheid wat dit veroorsaak het. Ons het die aangeleentheid bespreek met die organiseerders en sal seker maak daar vind nie weer so iets plaas nie,” sê Wêreldrugby Maandag in ’n verklaring.

Georgië se volgende wedstryd is Donderdag in Osaka teen Fidji.

* Georgië was deel van die Sowjet-Unie totdat dit in 1991 ontbind is. – Reuters