Australië se David Pocock dink kleiner rugbylande het merkbaar verbeter sedert die vorige Wêreldbekertoernooi en dit toon ’n gebrek aan respek om die spel se moondhede te kritiseer as hulle nie yslike tellings teen hulle aanteken nie.

Die Wallabies hou die rekord vir die grootste telling by ’n WB-toernooi met ’n 142-0-sege oor Namibië by die skouspel in 2003, maar sulke eensydige kragmetings is aan die taan.

Die verwagtinge van die tweemalige WB-kampioen is egter groot en sommige Aussies was nie beïndruk met hul span se oorwinning met 45-10 teen Uruguay die naweek nie.

“Ek vind dit soms as ’n speler oneerbiedig as mense reusetellings by WB-toernooie verwag,” sê die losvoorspeler in die aanloop tot die Wallabies laaste Groep D-kragmeting teen Georgië.

“Ek dink sommige van die kleiner rugbylande het uiters hard gewerk aan hul voorbereiding die afgelope vier jaar en ’n mens sien ’n merkbare verbetering.

“Uit die aard van die saak is Japan aan die spits, maar kyk hoe goed het Namibië in die eerste helfte teen Nieu-Seeland vertoon.”

Japan, die gasheer, het Ierland ’n skoknederlaag toegedien en is onoorwonne ná drie wedstryde, terwyl die Biltongboere Sondag ná ’n halfuur met slegs 10-9 agter was teen die All Blacks.

Volgens Pocock is die grootste verbetering in die spel van die kleiner spanne te bespeur in die verfyning van hul verdedigingspatrone.

“As jy na spanne soos Uruguay en Georgië se verdediging kyk, sien jy beslis elke week ’n ander prentjie,” sê hy.

“Hulle stel duidelik ’n paar dinge reg ná elke wedstryd. Jy sien duidelik baie IE (intellektuele eiendom) rondbeweeg oor die wêreld heen met afrigters en dies meer; dit is wonderlik vir wêreldrugby.”

Pocock (31), wat in Zimbabwe gebore is, beplan om aan die einde van die seisoen uit te tree, maar sê hy koester nog WB-hoop vir sy geboorteland wat in 1987 en 1991 aan die toernooi deelgeneem het.

“Ek sal mal wees daaroor om Zimbabwe by ’n WB-toernooi te sien.

“Hulle het hope talent op skolerugbyvlak en dit sal my baie gelukkig maak om hulle weer op die wêreldverhoog te sien.”

– Reuters