’n Springbok, Herschel Jantjies, tel die tweede agtereenvolgende jaar as een van Wêreldrugby se drie benoemdes as die Deurbraak-speler van die Jaar.

Die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi het die eerbewys verlede jaar gewen.

Die 23-jarige skrumskakel is saam met die Engelse vleuel Joe Cokanasiga en Franse losskakel Romain Ntamack benoem.

“Uit ’n individuele oogpunt is dit ’n massiewe eer,” sê Jantjies.

“Ek kan egter nie bekostig om nou daarin vasgevang te raak nie aangesien ons in ’n eindstryd speel. Al my aandag is op die oomblik op die eindstryd gerig.”

Jantjies, wat Donderdag in die Bokke se 23-tal vir Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama ingesluit sal word, beleef ’n droomjaar.

In sy toetsbuiging in Julie het Jantjies twee drieë in ’n Rugbykampioenskap-toets teen die Wallabies op Ellispark behaal.

Hy het later in Wellington die beslissende drie ná ’n lugskop deur Cheslin Kolbe in die Bokke se gelykopuitslag van 16-16 teen die All Blacks gedruk.

Jantjies het sy vierde drie vir die Bokke in ’n Wêreldbeker-losmaker teen Japan behaal in ’n toets wat Suid-Afrika met 41-7 gewen het.

Hy het in nege van die Bokke se toetse vanjaar gespeel. Die enigste een waarin hy nie gespeel het nie was die een waarin die Bokke in Pretoria met 24-18 oor Argentinië baas was.

Cokanasiga en Ntamack bied Jantjies nietemin strawwe mededinging.

Die 21-jarige Cokanasiga is ’n drieëmasjien. Ofskoon hy nog net in een Wêreldbeker-wedstryd gespeel het, het hy al sewe drieë in nege toetse ingeryg.

Ntamack is op 20-jarige ouderdom die jongste lid van Frankryk se Wêreldbeker-groep. Hy word nou as Frankryk se eerstekeuse-losskakel beskou, ’n posisie waarin hy in agt uit 12 van sy toetse in die beginspan was.

Bryan Habana, ’n voormalige Bok-vleuel, was saam met Jamie Heaslip, Felipe Contepomi en Fiao’o Faamausili die keurders wat oor Jantjies-hulle se benoemings besluit het.

Die Kiwi Nehe Milner-Skudder in 2015, die Engelse voorspeler Maro Itoje in 2016 en die All Black-vleuel Rieko Ioane 2017 tel saam met Dyantyi onder die vorige wenners van die eerbewys.