“Wat van ons? Ons is ook Bok-ondersteuners,” het ontstelde Vrystaters en Noord-Kapenaars gevra toe bekend gemaak is dat die Bokke se kampioene-toer nie een plek in dié twee provinsies gaan besoek nie.

Die seëvierende Bok-span. Rugbyliefhebbers van die Vrystaat en Noord-Kaap is ontstoke omdat die Springbokke dié twee provinsies uitsluit uit hul landwye toer wanneer hulle terugkeer. Foto: Foto24

Ronel Pienaar, woordvoerder by Vrystaat Rugby, sê die unie het ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gestuur waarin die Springbokke gelukgewens is met die verowering van die Wêreldbeker, asook vir die pryse vir Span van die Jaar en Afrigter van die Jaar.

Die unie sê hy het Saru vriendelik versoek dat die sentrale streek by die feesvieringe ingesluit word.

“Ons voel dit sal gepas wees om die Webb Ellis-trofee saam met die Curriebeker in die streek te hê en om in die feesvieringe te deel,” sê Pienaar.

Sy sê 11 mense wat ’n verbintenis met die streek het en waarop almal ontsettend trots is, was deel van die Wêreldbekergroep.

Die elf is Rassie Erasmus (hoofafrigter), Jacques Nienaber (verdedigingsafrigter), Vivian Verwant (fisioterapeut), Duane Vermeulen, Cobus Reinach, Willie le Roux, Frans Steyn, Lood de Jager, Makazole Mapimpi, Trevor Nyakane en Jaco Peyper (skeidsregter).

Le Roux het vir die Griekwas en die Cheetahs gespeel.

Erasmus het vir die Vrystaat gespeel en dié provinsie in 2005 afgerig toe die span op verrassende wyse die Curriebeker op Loftus Versfeld gewen het.

Erasmus het ook in 2006 en 2007 die span afgerig wat die Curriebeker gewen het.

Griekwas se uitvoerende hoof, Arni van Rooyen, het Maandag bevestig dat die Griekwas Saru ook gevra het dat die Bokke Kimberley besoek.

Louisa van der Merwe het op Facebook gesê die ou arme droë Vrystaat is nie belangrik nie, maar Grey-kollege sal seker weer ’n paar toekomstige Bokke brei.

Rassie het sy rugby hier gespeel en die Cheetahs afgerig, maar nou word ons geïgnoreer, dit is ’n groot teleurstelling.

Nóg ’n Facebook-gebruiker vra waarom die Bokke nie ook kleiner plekkies besoek nie – baie van die spelers kom juis van klein dorpies af.

Rachelle Wilson van Bloemfontein sê die stad het die Bokke goed ondersteun.

“Rassie het sy rugby hier gespeel en die Cheetahs afgerig, maar nou word ons geïgnoreer, dit is ’n groot teleurstelling,” sê sy.

Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege, sê hy glo die seuns is baie teleurgesteld omdat die Springbokke nie die sentrale streek gaan besoek nie.

Francois Steyn, Cobus Reinach en Jacques Nienaber was almal oudleerlinge van die skool.

Die Curriebeker staan op die oomblik in Bloemfontein en ’n mens sou dink die streek verdien erkenning vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby, sê Scheepers.

Andy Colquhoun van SA Rugby kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.