Die Skotse Rugbyunie (SRU) kan hom tot die hof wend om te verseker dat Sondag se kragmeting tussen Skotland en Japan in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Jokohama wel plaasvind.

Daar is sprake dat dié wedstryd weens die supertifoon Hagibis afgelas kan word – wat beteken Skotland sal nie die kwarteindronde kan haal nie.

Ringkoppe van die SRU, wat Mark Dodson die uitvoerende hoof insluit, was Donderdag in gesprek met Wêreldrugby om ’n moontlike oplossing te vind.

’n Woordvoerder van die SRU het volgens scotsman.com gesê “ons verwag dat gebeurlikheidsplanne gereed is om te verseker dat Skotland kan meeding om ’n plek in die kwarteindronde.”

Dié publikasie berig ook dat die moontlikheid van regsaksie deur die SRU nie uitgesluit is nie.

Die wedstryd tussen Nieu-Seeland en Italië en die wedstryd tussen Engeland en Frankryk is reeds weens Hagibis afgelas.

Tog bepaal die reëls van die Wêreldbeker-toernooi dat indien ’n wedstryd nie kan plaasvind op die dag wat hy geskeduleer was nie, dit ook nie op die volgende dag kan plaasvind nie.

Eddie Jones, afrigter van Engeland. Foto: Getty Images

Maar stuff.co.nz berig dat ’n woordvoerder van die SRU sê dat Wêreldrugby sy woord gestand moet doen.

“Wêreldrugby het drie of vier maande gelede gesê hy het gebeurlikheidsplanne om enige moontlike uitdaging die hoof te bied – en ons het hulle woord aanvaar.

“Ons verwag nou van hulle om met daardie planne vorendag te kom en te verseker dat die wedstryd wel gespeel word.

“Die ondersteuners, spelers en diegene wat van rugby hou sal met niks minder tevrede wees nie.”

Maar nie almal het simpatie met die Skotte wat hul eerste wedstryd van die toernooi teen Ierland verloor (3-27) en daarna met Samoa (34-0) en Rusland (61-0) afgereken het nie.

Eddie Jones, afrigter van Engeland, sê volgens die BBC dit sal Skotland se eie skuld wees as hy nie die uitspeelrondes haal nie.

“Dit is nou die seisoen waarin tifone voorkom en jy moet daarop voorbereid wees. Ons het ’n idee gehad dat dit kan gebeur, en daarom moet jy punte in jou wedstryde opstapel om jou in ’n goeie posisie te plaas.” – Sportredaksie