Steve Hansen se All Blacks het Vrydag “respek vir die trui gewys” deur Wallis in ’n emosionele uitspeelwedstryd om die bronsmedalje by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Tokio, Japan te klop.

Met ’n witwarm Ben Smith (vleuel) aan die spits, het Nieu-Seeland ses drieë gedruk om met 40-17 te wen.

“Dit was belangrik dat ons terugkom (na die All Blacks se nederlaag met 7-19 teen Engeland in die halfeindronde) en eer aan die trui en ondersteuners betoon en die afgelope week agter ons sit.

“Ons het goeie rugby regdeur die toernooi gespeel, maar een slegte wedstryd en jy is uit. Dit is waaroor uitkloprugby gaan. (Ek is) regtig trots op die spelers,” het die 60-jarige Hansen, in sy laaste toets as afrigter van die Kiwi’s, ná die wedstryd volgens Reuters gesê.

Ons het goeie rugby regdeur die toernooi gespeel, maar een slegte wedstryd en jy is uit. Dit is waaroor uitkloprugby gaan. (Ek is) regtig trots op die spelers.
Steve Hansen

Op die vraag wat sy tydperk by die All Blacks vir hom beteken het, was dit duidelik dat die trane vlak gelê het by Hansen. Hy het die applous van die skare erken, terwyl hy merkbaar op sy onderlip gebyt het en toe geantwoord: “Net ’n voorreg.”

Behalwe Hansen het die gordyn ook op ’n hele spul spelers en ook Warren Gatland, afrigter van Wallis, se loopbane in hul huidige posisies gesak.

Hansen was sedert 2004 ’n hulpafrigter, voordat hy in 2012 die hoofafrigter geword het. Gatland was sedert 2007 die Rooi Drake se afrigter. So dit is seker te verstane dat die betrokkenes op ’n hoë noot wou groet.

Maar die dag het aan Smith behoort wat maar min speelkans in die toernooi gekry het, omdat hy die laaste tyd agter George Bridge en Sevu Reece in die ry gestaan het.

Steve Hansen (links) en Sonny Bill Williams deel ’n oomblik ná die kragmeting. Foto: Getty Images
Warren Gatland verlaat die veld ná afloop van Vrydag se kragmeting teen die All Blacks. Foto: Getty Images

Smith (33), wat ook in sy laaste toets gespeel het, het gapings gevind waar daar stoptekens was en Wallis se verdedigers aan die raai gehou. Dat hy met twee drieë beloon is, is ’n beloning vir wat hy sedert 2009 in die All Black-trui vermag het.

Dit was ook Kieran Read, kaptein van die All Blacks, Ryan Crotty en Sonny Bill Williams se swanesang as toetsspelers.

Williams het ná die wedstryd gewys dat hy weg van die rugbyveld iemand met deernis is deur sy stewels uit te trek en aan ’n ondersteuner langs die veld te gee.

Gatland, wat na sy geboorteland, Nieu-Seeland, terugkeer om die Chiefs in die Superrugbyreeks te brei, was trots maar tog ook teleurgesteld.

“Ons spelers het nooit tou opgegooi nie en goeie rugby gespeel, maar dit was waarskynlik vir drie of vier spelers net ’n wedstryd te ver omdat hulle moeg was.

“Ons het baie beter in die tweede helfte gespeel met vars bene (plaasvervangers) teen ’n All Black-span wat baie goed op die aanval was.

“Ek is baie trots op hulle (sy spelers), hulle het ’n paar mooi drieë gedruk en kon selfs meer gedruk het.

“Ek het my tyd in Wallis geniet, maar daardie era is nou verby en ek sien uit na die volgende uitdaging,” het Gatland volgens die BBC gesê. – Sportredaksie

Puntemakers:

Nieu-Seeland 40 (26): Drieë: Joe Moody, Beauden Barrett, Ben Smith (2), Ryan Crotty. Doelskoppe: Mo’unga (5).

Wallis 17 (10): Drieë: Hallam Amos, Dan Biggar. Doelskoppe: Rhys Patchell, Dan Biggar. Strafdoel: Patchell.


Sonny Bill Williams se rugbystewels op Twitter: