Soos twee swaargewig-boksers is die Springbokke en die All Blacks besig om mekaar pimpel en pers in hul bekgeveg voor Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama te slaan. 

WELLINGTON, NEW ZEALAND - JULY 27: Richie Moâ??un
Richie Mo’unga en Beauden Barrett word albei Saterdag teen die Bokke losgelaat. Foto: Getty Images

Donderdag het Steve Hansen se houe op die Bokke se kennebak gereën. Hy het sy ervaring van sy vyfde Wêreldbekertoernooi gebruik om in waarskynlik die grootste nuuskonferensie van die toernooi sover keel skoon te maak oor die Bok-kamp se pleidooi aan die Franse blaser Jérôme Garcès om albei spanne gelyke behandeling in Jokohama te gee. 

"Ofskoon ek 'n hoë agting vir Suid-Afrika en in besonder Rassie Erasmus as 'n afrigter het, stem ek nie saam wat hulle gedoen het nie," het Hansen gesê.

"Hulle probeer eksterne druk op die skeidsregter plaas. Hulle (skeidsregters) het reeds genoeg druk vir ons afrigters om te doen wat hulle (die Bok-kamp) doen. 

"Dit maak nie saak wie die blasers is nie, as 'n afrigter kan jy altyd agterna emosioneel raak en fout vind met wat hulle in die wedstryd gedoen het. 

" 'n Mens kan ná wedstryde dink hulle het op jou, eerder as die teenstanders, gepik. Onsself het dit al gedoen. 

"Aan die einde van die dag doen die blasers net hul beste. Ja, hulle kry nie altyd hul beslissings reg nie."

Hansen het gesê dis 'n baie groot wedstryd en die skeidsregter moet kans gegun word om homself so goed moontlik vir die wedstryd voor te berei. 

Die afrigter van die All Blacks het ook die kans aangegryp om duidelikheid oor sy spankeuses te gee.

Nieu-Seelandse joernaliste wou by hom weet of die Bokke nie oor 'n meer gevestigde 23-tal beskik nie, met die All Blacks wat nog twyfel oor wie verskeie van hul eerstekeuse-spelers is. 

"Wat ek kan sê is dat ons groot vertroue in die 31 het. Ons het vertroue dat 'n sekere groep (23-tal) op 'n sekere dag die taak vir ons sal kan verrig.

"Toernooi-rugby is verskillend."

Sy span sal verander vir die groepwedstryde teen Kanada en Namibië, maar Hansen beplan soos die Bokke om sy sterkte 23-tal teen Italië te kies. Die span wat Saterdag teen die Bokke speel, is die een wat teen Italië gaan speel. 

Hansen het besluit op die kombinasie van Beauden Barrett op heelagter en Richie Mo’unga op losskakel vir die toets teen die Bokke. Ben Smith moet saam met Sonny Bill Williams met 'n plek op die bank tevrede wees. Ryan Crotty is as binnesenter saam met Anton Lienert-Brown in die middelveld gekies. 

Interessant is dat daar nie plek vir Rieko Ioane in die 23-tal was nie. Hy het in sy span se laaste toets teen die Bokke lelik teen die vlugvoetige Cheslin Kolbe kleigetrap. 

Soos verwag is loop Brodie Retallick die toets weens 'n skouerbesering mis. Scott Barrett vervang hom. Hansen het ook op 'n beweeglike lostrio van Kieran Read, Sam Cane en Ardie Savea besluit. 

All Blacks: Beauden Barrett, Sevu Reece, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Aaron Smith, Kieran Read (k), Sam Cane, Ardie Savea, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepu Laulala, Dane Coles, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Codie Taylor, Ofa Tuungafasi, Angus Ta'avao, Patrick Tuipulotu, Shannon Frizell, TJ Perenara, Sonny Bill Williams, Ben Smith.