Steve Hansen, die All Blacks se afrigter, het die Noordelike Halfrond se rugbyreuse uitgedaag om hul eiebelang ondergeskik te stel aan ’n wêreldwye seisoen.

Hansen, wat Nieu-Seeland tans slyp vir Saterdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland, meen die gebrek aan gereelde wedstryde tussen spanne uit die Noordelike en Suidelike Halfronde het daartoe aanleiding gegee dat daar nie tradisionele wedywering tussen hulle ontstaan het nie.

“Ek dink Suid-Afrika sal altyd ons aartsvyand wees omdat daar soveel geskiedenis daaraan gekoppel is. Ons speel gereeld teen mekaar. Ek dink ons het die afgelope ses jaar egter net een keer teen Engeland gespeel. Dis moeilik om ’n wedywering te skep wanneer jy nie gereeld teen mekaar speel nie,” het Hansen gesê.

“As die Sesnasies vir ’n wêreldwye seisoen kan aansluit, kan dit dalk ’n werklikheid word. Sodra hulle dít doen, sal hulle aan die spel eerder as hulself dink.”

Nieu-Seelandse rugbybeamptes is lankal ten gunste van ’n gekoördineerde kalender om vir belyning tussen die Noordelike en Suidelike Halfronde se kompetisies te sorg. Dit kan ook ’n geleentheid bied om spelers se werkslading beter te bestuur.

Wêreldrugby het vroeër vanjaar ’n toernooi voorgestel waarvolgens Sesnasies-spanne en dié uit die Rugbykampioenskap gereeld teen mekaar sou speel. Dit het ook voorsiening gemaak vir promosie en relegasie.

Dit kon egter weens ’n “gebrek aan konsensus” tussen die rugbyreuse nie realiseer nie.

Britse media het berig dat Sesnasies-lande daarteen gekant was en Wêreldrugby se uitvoerende hoof, Brett Gosper, het dit as ’n verlore geleentheid beskryf.

Dit was ’n gewilde plan in die Suidelike Halfrond en het die hoop geskep dat kleiner toetslande soos Fidji meer speelkans teen die spel se groot moondhede sou kon kry.

John McKee, afrigter van Fidji, was ook krities oor die besluit om nie met die plan voort te gaan nie. Afrigters van kleiner toetsnasies het strykdeur vanjaar se WB-toernooi die punt gemaak dat hulle gereelder teen die reuse moet speel om te kan verbeter.

Hansen het wel vir Japan, wat nog nie die status geniet as ’n top-toetsnasie nie, geloof vir sy opmars kwarteindstryd toe. Die Brave Blossoms het vir Ierland en Skotland geklop.

“Japan was puik. Jy kon ná die kwarteindstryd (teen Suid-Afrika) sien hoeveel dit vir hulle beteken het. Dis ’n baie goeie teken vir rugby in Japan,” het hy gesê.

“Mense in Japan respekteer dat hul span alles ingesit het. Hulle is ’n groot suksesverhaal van die toernooi.”

– Reuters