Die Japanse rugbyspan se goeie spel en vordering in die Wêreldbeker-toernooi bring nie net opwinding vir Japannese nie. Die swaargewigte van wêreldrugby, waaronder Nieu-Seeland, die verdedigende kampioen, neem ook kennis.

Steve Hansen, die Kiwi-afrigter, was beïndruk met Japan se oorwinning van 28-21 Sondag oor Skotland.

Die Brave Blossoms het nou na die sewende plek op die wêreldranglys opgeskuif en Hansen is bly sy span speel nie nou teen Japan nie.

“Mense vra ons teen wie ons wil speel.

“Japan speel beslis nou skitterende rugby. Ek is baie gelukkig dat hy aan die ander kant van die loting is.”

Steve Hansen, die All Black-afrigter. Foto: Getty Images

Japan het ná vier oorwinnings oor Rusland, Ierland, Samoa en Skotland boaan Groep A geëindig. Hy sal Sondag in die kwarteindronde teen Suid-Afrika te staan kom.

Die Springbokke was die naaswenner van Groep B ná Nieu-Seeland.

Sou Japan daarin slaag om sy skokoorwinning oor die Springbokke van vier jaar gelede in Brighton te herhaal, sal hy in die halfeindronde teen Wallis of Frankryk speel.

Sy moontlike teenstander in die eindstryd is dan die All Blacks.

Hansen was beïndruk met die spoed waarmee Japan speel, asook sy onwrikbare verdediging.

Ierland kon teen Japan vir 60 minute geen punte aanteken nie en Skotland was ook punteloos in die laaste 25 minute.

“Dit is ’n goeie manier om rugby te speel, nie waar nie?” sê Hansen.

“Dit het vir hulle gewerk teen Ierland, Skotland en hul ander teenstanders.”

Die All Black-flank Sam Cane sê ’n groot groep spelers het in Nieu-Seeland se spankamer byeengekom om die wedstryd te kyk, terwyl die res in hul kamers gekyk het.

“Die spoed waarteen die Japanners speel en hul vaardighede – hulle is ’n goeie span,” het Cane gesê.

Hansen sê Japan speel soos ’n elite-span.

“Wat vertonings betref, is hulle in die top-agt en hulle speel gehalte-rugby.

“Japan kan trots wees op sy span.

“Hulle het Japanse rugby ’n opflikkering gegee, sowel as Japan se mense.” – Reuters