Vir beter kwarteindstryde in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi kon ons nie gevra het nie en daarvoor moet ons veral Japan se rugbyspan bedank.

Die asemrowende tempo in sy spel was vir Ierland en Skotland een te veel in hul groepwedstryde. Die uiteinde daarvan is ’n scenario wat nie baie kenners in die vooruitsig gestel het nie: ’n Kwarteindstryd tussen Nieu-Seeland en Ierland. En heel moontlik wag Engeland vir die wenner van daardie wedstryd.

Die Iere het twee van hul laaste drie kragmetings teen die All Blacks gewen – met 40-29 in Chicago in 2016 en met 16-9 in Dublin in 2018. Tussendeur het die Kiwi’s in Dublin met 21-9 gewen.

Soos sake nou staan, is Nieu-Seeland steeds boaan Wêreldrugby se ranglys, hoewel hy in die aanloop tot die WB-toernooi by geleentheid deur beide Wallis en Ierland verbygesteek is.

Maar nes jy begin dink die Kiwi’s lyk kwesbaar, trek hulle ’n haas uit die hoed soos met die klinkende sege van 36-0 oor Australië in Auckland vroeër vanjaar. Dít ’n week nadat hulle in Perth met 26-47 teen die Wallabies verloor het.

In die groepwedstryd teen die Springbokke in Jokohama was die All Blacks eenvoudig die beter span. Dit was nie ’n geval van Suid-Afrika wat swak was nie.

Maar durf ons droom oor wat Saterdag in Tokio kan gebeur? Nie omdat die Kiwi’s onsmaaklike karakters nie, maar omdat dit presies is wat wêreldrugby nodig het.

Dink jou dit in: die span wat vir agt jaar lank al wêreldkampioen en nuwe standaarde vir die spel daargestel het, word in die kwarteindronde uitgeskakel.

Dít kan dié WB-toernooi – wat met die asemrowende wedstryd tussen Japan en Skotland nuwe lewe gekry het ná die verwoesting wat deur die tifoon Hagibis gesaai is – na ’n volgende vlak neem.

Met ’n omgesukkelde pak voorspelers en ’n skakelpaar van Conor Murray en Johnny Sexton het Ierland ten minste ’n realistiese kans. Die feit dat hy teen Japan verloor het verander nie aan daardie feit nie.

Selfs al seil die All Blacks oor die Ierse hekkie, wag Owen Farrell en sy Engelse troepe dalk in die halfeindronde. Foto: Getty Images

As die Cape Crusaders nie nou al bekommerd is nie, sal die vooruitsig van ’n halfeindstryd teen Engeland dalk daardie uitwerking hê! Dis nou indien Eddie Jones-hulle met Australië afreken.

Gegewe die All Blacks se onverwags moeilike pad eindstryd toe, was hul oorwinning oor die Bokke omtrent gelykstaande aan ’n nederlaag. Die weg daarvoor is deur Japan en ironies genoeg sy uitgeslape Kiwi-afrigtingspan gebaan.

Die Brave Blossoms is wel die Bokke se probleem in die kwarteindronde. As Suid-Afrika se oorwinning van 41-7 oor Japan in sy opwarmwedstryd voor die WB-toernooi as maatstaf gebruik word, is dit ’n maklike som om te maak dat die Bokke die gunstelinge sal wees.

Baie het egter sedertdien gebeur en Japan ry ’n golf van positiewe energie en emosie. Die skare gaan ook ’n groot faktor in die gasheerland se guns wees en dit kan moontlik ook ’n invloed op die skeidsregter hê.

Ek glo wel Suid-Afrika behoort die wa deur die drif te trek, maar nie weer met só ’n groot telling nie.

Elders glo ek nie Wallis behoort te veel probleme teen Frankryk te hê nie.

Ek wil my dus verstout om die volgende vir die halfeindronde te voorspel: Suid-Afrika t. Wallis en Engeland t. Ierland. Eindstryd: Suid-Afrika t. Engeland.

Die beroepswedders, wat met hul kop eerder as hul hart voorspel, reken die All Blacks is steeds die oorweldigende gunstelinge om die toernooi te wen en plaas Suid-Afrika tweede.

Die mees vrygewige aanbiedinge is as volg: Nieu-Seeland 13/8; Suid-Afrika 7/2; Engeland 21/5; Wallis 10/1; Ierland 22/1; Australië 28/1; en Japan 40/1.

Met ander woorde ek bou lugkastele ...