Swing low, sweet chariot.

Dít is die laaste woorde wat die Springbokke Saterdag in die Wêreldbeker-eindstryd van die Engelse ondersteuners wil hoor.

Want as hierdie gevleuelde woorde luidkeels uit Engelse monde kom, beteken dit net een ding: hulle is besig om te wen.

André Pretorius, die eertydse Springbok-losskakel wat deesdae die Luiperds en die Pukke in die Varsitybeker-reeks afrig, erken dit is die een ding van toetse teen Engeland wat in sy kop vasgesteek het: “Daardie singery van hulle.”

Hy het ’n paar hoogtepunte, maar ook hartverskeurende laagtepunte in die Bok-trui teen die Engelse beleef.

In 2002 was hy deel van die Bok-span wat op Twickenham ’n rekord-nederlaag van 53-3 gely het en toe ook op die einste heiligdom van Engelse rugby in 2006 die hoogvat op Jonny Wilkinson uitgevoer het toe hy vir Butch James as losskakel vervang het om die Bokke die toets te kos.

In die volgende toets moes die afrigter, Jake White, hom noodgedwonge weer kies omdat James nog beseer was en hy het vergoed daarvoor met vier skepdoele, wat gehelp het dat die Bokke wen.

“Ja, ek kan getuig dat ’n week in rugby ’n lang tyd is,” het Pretorius Woensdag gesê.

Wat Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd betref, sê Pretorius die Engelse moet as die gunsteling beskou word.

Al die druk is eintlik op Engeland en hulle moet voel hulle het meer om te verloor.
André Pretorius

“Tog is daar sekere dinge wat in die Springbokke se guns kan werk. Al die druk is eintlik op Engeland en hulle moet voel hulle het meer om te verloor.

“Daar is ook nie grys gebiede vir die Springbokke nie. Elkeen weet presies met Rassie (Erasmus, die afrigter) se plan waar hulle staan en wat hulle moet doen. As hulle op ’n sekere deel van die veld is, is daar net een uitweg vir hulle en word alles in swart en wit uitgestippel.

“Die resep moet wees vir Rassie om te hou by wat hy tot nou toe gedoen het. Almal in die span het dieselfde ingesteldheid en dit is ’n spanpoging.

André Pretorius sê die Springbokke moet keer dat Engeland se geesdriftige ondersteuners ’n faktor raak tydens Saterdag se eindstryd in Jokohama.Foto: Getty Images

“Engeland het min swakplekke, maar ek dink tog as daar krake is, is dit by hul skrumwerk en kan die Bokke daar voordeel trek.

“Die Springbokke kan hulle met die skrumwerk frustreer.

“Ek glo ook dit gaan nodig wees dat die Springbokke vanuit die staanspoor die voortou neem en nie nodig gaan hê om terug te moet veg nie. As ons hulle toelaat om eers ’n houvas te kry, gaan dit ’n groot probleem wees en kan ek nie sien hoe ons sommer sal kan terugkom nie,” sê hy.

Die drie wat die Engelse teen die All Blacks in die halfeindstryd deur hul groot senter Manu Tuilagi gedruk het, was volgens Pretorius een van die bestes wat die beplanning en uitvoering daarvan betref in die Wêreldbeker-toernooi.