Die Walliese rugbyspan is Dinsdag te midde van sy voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan, geskok deur die aankondiging dat sy hulpafrigter, Rob Howley, huis toe gestuur is oor aantygings dat hy reëls met betrekking tot weddenskappe oortree het.

Die Daily Mail berig dat Howley na bewering weddenskappe aangegaan het vir talle rugbywedstryde. Daar is nie gesê of Wêreldbeker-wedstryde ter sprake is nie.

’n Tugproses wag nou op Howley.

Die voormalige Walliese skrumskakel het 59 keer sy land as speler verteenwoordig en ook twee keer vir die Britse en Ierse Leeus uitgedraf.

Hy is al sedert 2008 lid van die Walliese afrigtingspan.

Hy sal nou deur die voormalige Walliese losskakel, Stephen Jones, vervang word vir die duur van die toernooi.

Howley kan tot lewenslank geskors word indien hy skuldig bevind word. – Sport24