Die krete van “Olé, olé, olé” wat Saterdag deur die paviljoene weergalm het terwyl die All Blacks die haka gedoen het, het die kollig opnuut op dié tradisionele Maori-oorlogsdans laat skyn.

Terwyl baie rugbyondersteuners meen dis disrespekvol van toeskouers om “Olé” – of trouens enigiets – te dreunsing, soos wat tydens die Wêreldbeker-wedstryd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika gebeur het, het ’n gesiene Ierse rugbyskrywer ’n ander mening.

Ewan MacKenna, ’n bekroonde Ierse skrywer, het ’n pleidooi gelewer dat die haka stopgesit word omdat dit vir Nieu-Seeland ’n onregverdige sielkundige én fisieke voordeel gee. Die ander span staan en kry koud, sê hy.

In ’n rubriek op punditarena.com bestempel McKenna die haka as “heeltemal uitgedien” en gekommersialiseer. Hy sê dit het só geword dat ’n mens van skaamte ineen wil krimp as jy dit sien.

Dit is betreurenswaardig, want Nieu-Seeland is reeds, met reg, grootkop genoeg.
John Mackenna

Volgens hom is die meeste van die All Blacks nie eens van Maori-oorsprong nie, maar steeds word die tradisionele oorlogsdans uitgevoer.

“Ons verheerlik weer die dans,” skryf McKenna.

“Dit is betreurenswaardig, want Nieu-Seeland is reeds, met reg, grootkop genoeg. Selfs sonder dat hul enorme ego’s gestreel moet word.

“Nietemin het selfs Wêreldrugby dit in sy reëls vervat dat jy ’n boete kry en geroskam word as jy nie op jou eie 10-meterlyn staan en kyk hoe ’n spul mans hul tonge vir jou uitsteek en hul dyspiere slaan nie.

“Ons weet dit, want in 2011 is die Franse Rugbyfederasie met £10 000 beboet omdat hulle die vermetelheid gehad het om aggressief vorentoe te beweeg in antwoord daarop (die haka).”

Hy noem ook dat die Ierse Rugbyunie op die vingers getik is toe Brian O’Driscoll destyds ’n grashalm in die lug gegooi het terwyl die haka uitgevoer is.

MacKenna het ook ’n aanbeveling vir Ierland vir as hy die All Blacks by dié WB moet trotseer.

“Terwyl die All Blacks begin om die haka uit te voer, moet Ierland nie in gelid staan en dit bewonder nie. Hulle moet nie eens kyk nie. Hulle moet liefs, soos (die voormalige Wallaby-vleuel) David Campese gemaak het, die tyd verwyl deur strek-, skop- en ander oefeninge te doen.

TJ Perenara het die haka Saterdag in Jokohama saam met die All Black-kaptein, Kieran Read, gelei. Foto: Getty Images

“Hulle het immers nie al die pad Japan toe gereis om uitvoerende kuns te aanskou nie. Ná die tyd, wanneer die onvermydelike boete opdaag, moet die Ierse Rugbyunie dit betaal in sakke pennies, wat afgelewer word by (Wêreldrugby se hoofkantoor) in verskeie kruiwaens.

“Dan – wen of verloor – sal ons werklik die Ierse rugbyhelde sien waarvan daar gereeld gepraat word.”

TJ Perenara, die Nieu-Seelandse skrumskakel, het egter verduidelik waarom die haka belangrik vir hulle is.

“Dit gaan daaroor om ’n konneksie met die land te maak, om ’n konneksie met my voorvaders en my broers langs my te maak,” het Perenara volgens WalesOnline gesê.

“Baie mense sien die haka as ’n bedreiging vir die teenstander, ’n uitdaging aan die teenstander, en ek veronderstel sommige mense ervaar die haka dalk op daardie manier,” sê Perenara.

Terwyl sommige mense dit as disrespekvol bestempel wanneer toeskouers, soos tydens Saterdag se wedstryd in Jokohama tydens die haka sing, is daar ’n ander gros ondersteuners wat meen dit is regverdig dat die teenstander op ’n gepaste wyse op die haka kan reageer. – Bronne: New Zealand Herald, WalesOnline, Punditarena, Sportredaksie

* Oorspronklike rubriek: https://punditarena.com/rugby/emackenna/mackenna-haka-new-zealand-stop/