Ierland kon nie sy Wêreldbeker-aanslag op ’n beter manier begin het nie, maar dié span se afrigter, Joe Schmidt, meen steeds sy span is in ’n laer gewigklas as die All Blacks en die Springbokke.

Die Iere het Skotland Sondag in Groep A in ’n indrukwekkende vertoning met 27-3 afgeransel in Jokohama.

As Schmidt se span ook later die gasheer, Japan, klop, sal hy in die kwarteindronde teen Suid-Afrika te staan kom.

Schmidt was in sy noppies met Ierland se bonuspuntsege, maar het gewaarsku hulle gaan sterker teenstand teen die Bokke kry.

“Die All Blacks en die Springbokke (se wedstryd) was op ’n ander vlak. Ek het gedink dit was ’n swaargewigstryd. Ons mag dalk ligswaargewig of middelgewig wees, ek is nie seker nie,” het Schmidt op ’n mediakonferensie gesê.

Hy het die wedstryd tussen die Kiwi’s en die Bokke as ’n “superstryd” beskryf.

“Suid-Afrika was gedug en die All Blacks was met tye briljant.”

Die Ierse senter Tadhg Furlong duik oor vir een van sy span se drieë in hul oorrompeling van Skotland. Foto: AP

Die voormalige Ierse losskakel Tony Ward het intussen gesê Ierland se vertoning was na aan perfek.

Ook hy waarsku in ’n rubriek in die Irish Independent dat Ierland se onafwendbare afspraak met Suid-Afrika “ ’n uitdaging van ’n heel ander dimensie sal wees”.

“Hulle het ’n hele paar keer teen Nieu-Seeland gelyk na die aanspraakmakers wat hulle onbetwisbaar is.

“Ons kan maak wat ons wil, maar die hartseer werklikheid is dat dit byna ’n gegewe is dat Ierland teen die Springbokke en Skotland teen die All Blacks sal speel in die kwarteindronde,” skryf Ward.

Schmidt was baie tevrede met die samespel tussen sy agttal, wat die Skotte voor pap gespeel het, en die agterlyn.

Die vaste voorspelers James Ryan, Rory Best en Tadhg Furlong het gaan druk.

“Die pak was uitstaande, maar daar was ook goeie vertonings in die agterlyn deur Jordan Larmour, Jacob Stockdale en Garry Ringrose. Veral hul verdediging was uitstaande, het Schmidt gesê.”

– stuff.co.nz