Soos die yslike tifoon Hagibis Japan nader, raak die kanse al groter dat Ierland se voorland ’n Wêreldbeker-kwarteindstryd teen die All Blacks gaan wees, maar die Ierse afrigter, Joe Schmidt, het sy spelers gevra om nie die kar voor die perde te span nie.

Volgens Schmidt moet Ierland eers Saterdag in Foekoeoka ’n oorwinning oor Samoa behaal. Wat daarna gebeur, is buite hul beheer.

As Hagibis die verwagte verwoesting in die Tokio-omgewing saai, kan Japan en Skotland se deurslaggewende Groep A-wedstryd Sondag in Jokohama (aan die buitewyke van Tokio) ook afgelas word, soos reeds Donderdag met Engeland en Frankryk, asook Nieu-Seeland en Italië se kragmetings Saterdag gebeur het.

Indien die Japan-stryd in die slag bly, sal die gasheerland twee ligapunte verdien en sodoende boaan sy groep eindig, met Ierland tweede, mits hy met Samoa afgereken het.

Die span wat tweede in Groep A eindig, speel in die kwarteindronde teen die wenner van Groep B, wat dan Nieu-Seeland sal wees.

“Dis nie iets wat ek kan beheer nie,” het Schmidt gesê toe hy oor dié moontlikheid uitgevra is.

“Ek weet net wat ons nog moet doen, en dit is om ’n oorwinning te behaal.

Joe Schmidt, Ierland se afrigter. Foto: Getty Images
Die Wêreldbeker-reëlingskomitee kondig Donderdag aan dat hy twee wedstryde weens die verwagte tifoon Hagibis moes kanselleer, terwyl Japan en Skotland se wedstryd Sondag ook in die weegskaal is.Foto: Getty Images

“Ek dink nie enigiemand wou dié situasie (die kansellasie van wedstryde) gehad het nie en party spanne gaan geweldig teleurgesteld wees dat hul wedstryde reeds afgelas is.

“Ek weet daar is ook baie ondersteuners, wat van wedstryd na wedstryd reis, wat ongelukkig sal wees. Dan is daar ook sekere spelers wat in hul laaste Wêreldbeker-wedstryde sou gespeel het.

“So vanuit daardie oogpunt is dit ’n groot jammerte,” het Schmidt gesê.

Volgens Rory Best, kaptein van Ierland, is hul benadering dat die Japan-Skotland-wedstryd wél voortgaan en dat hulle dus nie kan bekostig om ’n skok-nederlaag teen Samoa te ly nie.

“As die Japan-wedstryd wel gekanselleer word, sal ons maar kyk wat gebeur,” het dié haker gesê.

Steve Hansen, die All Blacks se hoofafrigter, het intussen gesê hoewel hy simpatie het met Italië, wat ontneem word van die kans om nog vir die kwarteindronde te kwalifiseer, was Wêreldrugby se besluit uiteindelik ’n maklike een.

“Die realiteit is dat ons nie die weer kan beheer nie. Gaan ons voort met die wedstryd en plaas mense se lewens in gevaar, of neem ons leiding en neem ’n besluit om mense se veiligheid te verseker? Dis ’n maklike besluit.”

Gaan ons voort met die wedstryd en plaas mense se lewens in gevaar, of neem ons leiding en neem ’n besluit om mense se veiligheid te verseker? Dis ’n maklike besluit.
Steve Hansen

Volgens hom het almal geweet wat sou gebeur indien ’n tifoon Japan bedreig en dit was daarom belangrik dat jy jou groepwedstryde wen én bonuspunte insamel.

Hansen sê dis ook nie asof Wêreldrugby die toernooi op ’n ander tyd van die jaar, wanneer daar nie tifone is nie, kon reël nie.

“As ons vroeër begin het, het jy die risiko geloop dat die spelers aan hitte-uitputting kon sterf, want dit sou 40 °C wees. As jy die toernooi later begin het, wel, dan sou ons net voor Kersfees klaargemaak het en kon Kersvader die Wêreldbeker oorhandig het,” het hy geskerts.

* Schmidt het intussen sy sterkste span vir die stryd teen Samoa gekies, met die skrumskakel Conor Murray wat na die spel terugkeer.

Ierland se span:

Jordan Larmour, Keith Earls, Robbie Henshaw, Bundee Aki, Jacob Stockdale, Johnny Sexton, Conor Murray, CJ Stander, Josh van der Flier, Tadgh Beirne, James Ryan, Iain Henderson, Tadgh Furlong, Rory Best (k), Cian Healy. PLAASVERVANGERS: Niall Scannell, Dave Kilcoyne, Andrew Porter, Jean Kleyn, Peter O’Mahony, Luke McGrath, Joey Carbery, Andrew Conway. – Reuters

* Ierland en Samoa pak mekaar Saterdag om 12:45 (SA tyd).